Jazzklanke is Donderdag (16/03) in die lug wanneer die City of Roses-jazz-ensemble sy eerste buiging in die Odeion maak.
Die stigting van die ensemble is geïnspireer deur die aanstelling van dr. Joseph Kunnuji by die Odeion-musiekskool aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Kunnuji, wat sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) verwerf het, is as senior lektor in etnomusikologie en Afrika-musiek by die musiekskool aangestel.
Hy het ’n uitgebreide kennis en ervaring van jazz as trompetspeler. Sy passie vir dié musiek-genre het gelei tot die stigting van ’n jazz-ensemble met gehalte-musikante om herlewing vir dié musiek by die Odeion te bring.
Op die ensemble se eerste konsert om 19:30 in die Odeion word gefokus op hoofstroom-jazz soos uit die sogenaamde klassieke of Bebop-tydperk (middel 1940’s tot middel 1960’s). Die musiek is bekend gemaak deur musikante soos Charlie Parker, Miles Davis, Dizzy Gillespie en John Coltrane.
Die ensemble bestaan uit vier musikante wat saam met Kunnuji optree: John Smit (op tromme), Claire Röntsch (saksofoon), Marc Röntsch (baskitaar) en Nicol Viljoen (klavier en klawerbord); almal aan die Odeion-musiekskool verbonde.
Bywoning van die vertoning is gratis.