Elkeen wat dit lees, kan daaruit leer.
“Moenie dink jy gaan sommer met moord wegkom nie,” sê Charné Kemp, skrywer van die nuwe boek Moord op Pofadder.
Volgens Kemp, ’n ervare ondersoekende joernalis met jare se hofervaring, sal drie onweerlegbare getuienisse – DNS, selfoonrekords en kringtelevisiekameras – meebring dat ’n skuldige die een of ander tyd vasgetrek word.
Moord op Pofadder vertel die voorafgaande gebeure tot die huurmoord op die 41-jarige Leon, ’n bekende hotelier, sakeman en boer van dié Noord-Kaapse dorp; en die ondersoek daarna wat tot die inhegtenisneming, skuldigbevinding en tronkstraf van Suretha Brits, Leon se vrou, en drie ander gelei het.
Dit is ook nie net sy familielede en vriende wat daardeur geraak is nie; sy moord het wyd in die gemeenskap uitgekring en indirek talle ander ook slagoffers gemaak. Soos die 11 kinders van dié wat skuldig bevind is, wat nou sonder een of albei ouers moet grootword.
‘Onskuld’ verrassend
“Sy was bereid om tot die uiterste vir haar onskuld te veg,” sê Kemp, wat vir maande deur dokumente, onderhoude, stemboodskappe, verklarings en opnames van hofverrigtinge gewerk het.
Omdat dit presies getranskribeer is, het dit haar gehelp om die Afrikaans van die streek vas te vang en karakterisering te doen. Alles wat sy geskryf het, kom daaruit. Sy sê die rede dat kruisondervraging tydens ’n verhoor so belangrik is, is omdat baie besonderhede daaruit kom.
Enrich Williams (toe 34) is op dieselfde dag as Van Vuuren in hegtenis geneem, en Amantle Bareki (toe 24) op 23 Oktober.
“Die boek het struktuur begin kry toe Van Vuuren in November 2021 in die verhoor van die ander twee getuig het,” vertel Kemp. “Toe het ek die begin van die boek gesien.”
Die boek begin in ’n donker voertuig waar Van Vuuren, Williams en Bareki deur die nag van Kathu na Pofadder ry met ’n duidelike opdrag: Maak vir Leon dood.
‘Waarom het ek begin?’
Kemp, wat saam met haar tandartsman Attie en hul drie honde in Kimberley bly, moes deeglik beplan aan die tyd wat sy in Pofadder en Upington deurgebring het. Tussen die Noord-Kaapse hoofstad en Pofadder strek meer as 600 km se pad, terwyl dit net meer as 400 km tot in Upington is.
“Ek het elke keer met mense gepraat, kontakte opgebou en die omgewing leer ken.”
“Maar baie van hulle was staatsgetuies en mag nie met die media gepraat het nie. Eers toe Suretha skuld erken het, het hulle begin praat. Dit was asof hulle verlig was om te praat. Ek sou nog met Suretha wou praat, maar my versoek is glad nie beantwoord nie.”
Kemp het vir maande van 05:00 tot 22:00 voor die rekenaar deurgebring.
“Baie kere het ek gewonder waarom ek dit begin het.”
Moord in Pofadder neem die trant van skeppende nie-fiksie in, en word uit verskillende karakters se oogpunt vertel. Elk van die 46 hoofstukke, wat kort is en maklik lees, begin met ’n prikkelende opskrif.
“Terugskouend besef ek dat my meestersgraad-manuskrip, wat fiksie is, dieselfde agtergrond as die moordsaak het – ’n vrou, ’n kwesbare man en ’n huurmoord. Dit wat ek tydens my meestersgraad geleer het, het my baie gehelp.”
Kemp, reeds 12 jaar in Kimberley, is oorspronklik van Florida en het aan die UV studeer. Sy en haar man het ook ’n paar jaar in Londen gewoon en gewerk; en daarna in Kuruman, vanwaar hulle na Kimberley verhuis het.
Sy beskou die Noord-Kaapse ooptes, berge en dale as bekoorlik, en sy en haar man is gaande oor die geskiedenis van die Anglo-Boere-oorlog wat hulle hier leer ken het.
Wonder oor lig en donker
Sy was daardie skoolkind met ’n uitveër en skerpmaker wat soos ’n kopbeen lyk. Sy hou daarvan om begraafplase te besoek, en wonder oor die lig en donker in elke mens.
Jare later in Kimberley, toe Deon, Christel en Marthella Steenkamp op Goeie Vrydag van 2012 op die gesinsplaas buite Griekwastad vermoor is, het Kemp geweet: Dit is ’n storie wat vertel moet word. Haar eerste boek, Moord op Griekwastad, is geskryf. Haar tweede boek, Bloed, dunner as water, handel oor gesinsmoorde.
Benewens harde banke en strak prosedures is krakende deure vir haar so kenmerkend van hofsale. Maar ’n hofsaal se atmosfeer hang van jou gemoedstoestand af, sê sy.
“En wanneer die waarheid seëvier, is dit asof die lig helderder skyn.”