Die 13-jarige Miné Truter, ’n leerling van die Laer Meisieskool Oranje, het van 5 tot 7 Oktober deelgeneem aan Bonita van der Westhuizen se Toddler and Tween of the World-skoonheidskompetisie.
Op die kompetisie wat in Klerksdorp plaasgevind het, is Miné in die ouderdomsgroep 13 tot 14 jaar as tweede prinses gekroon. Sy is ook as die Vrystaat-wenner in dié ouderdom-kategorie aangewys.
Sy het in Februarie haar reis as finalis begin en het in die agt maande vooraf liefdadigheidswerk gedoen.
Sy het weekliks uitgereik na die gemeenskap met haar weeklikse “Give a little”-liefdadigheidsveldtog waartydens sy kospakkies aan mense in nood uitgedeel het.
Sy het meestal gefokus op mense en kinders wat min of geen ondersteuning van die staat af kry nie. Liefdadigheidswerk was nog altyd haar passie en baie na aan haar hart.
Op die kompetisie het sy in haar ouderdomsgroep die prys vir “Beauty with a Purpose” ontvang.
Modelwerk is meer as ’n stokperdjie vir haar.
“Dit leer my om myself te waardeer, dit bou selfvertroue en ek kry die geleentheid om soveel nuwe mense te ontmoet,” sê sy.
“Ek kan net myself wees en my passie uitleef en as ek iewers ’n glimlag op iemand se gesig kan sit, is my hart vol vreugde en blydskap.”