Bloemfontein het die afgelope tyd kennis geneem van ‘n nuwe blits wat die een rekord ná die ander op die atletiekbaan verpletter.
Ná die naweek se nasionale hoërskole-atletiekkampioenskapsbyeenkoms wat in Bloemfontein gehou is, het Rumé Burger van die Hoër Meisieskool Oranje twee nuwe Suid-Afrikaanse rekords agter haar naam.

Rumé het op Vrydag 4 April ‘n nuwe rekord van 11:43 in die 100m (meisies o.17) opgestel.
Sy het die vorige rekord (11.58) wat sedert 2006 staan, reeds Donderdag in die semi-finaal tot 11.50 verbeter.
Volgens wêreldatletiek is haar nuwe rekord die vinnigste tyd tot dusver in 2025, in internasionale atletiek deur ‘n o.18-vroueatleet.
Rumé is die eerste Oranjeniet in etlike jare om in die 100m op dié rekord te verbeter.
Haar nuwe rekord in die 200m is 23.35 met die vorige rekord (23.57) wat in 2023 opgestel is.
Haar tye is selfs beter as die Vrystaat- en Motheo-rekords wat sy vroeër die jaar opgestel het.
Op die Vrystaatbyeenkoms in Maart het Rumé die Vry- staat-rekords in albei items laat spat.
Sy het die rekord in die 100m (11.70) verbeter van 12,00 wat sedert 2003 staan. In die 200m het sy die rekord van 24.85 na 23.76 (wat staan sedert 2008) verbeter. Haar optog het begin op die Motheo/Xhariep-byeenkoms in Februarie waar sy die 100m rekord verbeterhet na 11.55, en die 200m verbeter tot ‘n tyd van11.55.
Dit was nie net Rumé wat die Oranjeniete laat juig het nie. Dit was die beste wat dié skool se atlete in die geskiedenis van die nasionale atletiekbyeenkoms behaal het.
Die atlete het vier goue medaljes gewen.
Benewens Rumé se twee eerste plekke, het Diné le Roux (o.19) die 100m-hekkies gewen en Karla Kock (o.15) het die gewigstoot in haar afdeling gewen.