Kananelo Mokoena met die uitdyers wat die week verwyder is om op sy nek oor te plant.Foto: Juan-Mari Steyn


’n Brandslagoffer wat danksy ingryping binnekort die eerste keer in jare sy nek vrylik sal kan beweeg, is een van die begunstigdes in vandeesweek se Smile-week.

Daar is 17 kinders van gebiede waar mediese dienste beperk is, wat vandeesweek lewensveranderende operasies by die Universitas- Akademiese Hospitaal ondergaan.

Kananelo Mokoena met die uitdyers wat die week verwyder is om op sy nek oor te plant.Foto: Juan-Mari Steyn

Die operasies wissel van lip en verhemelte-rekonstruksie tot kinders wat weens brandwonde rekonstruksie moet ondergaan.

Een so kind is Kananelo Mokoena (10) op wie ’n pot kookolie uitgeval het toe hy twee jaar oud was. Die olie het ernstige brandwonde op sy gesig en nek veroorsaak. Soos wat die vel gesond geword het, het die letsel se weefsel van sy ken aan sy bors vasgegroei wat dit vir hom ’n uitdaging maak om sy kop op te lig.

Om vir vandeesweek se operasie voor te berei, is twee weefsel-uitdyers wat soos ballonnetjies werk, onder sy vel in sy skouer en bors ingeplant.

Die afgelope drie maande is dié ballonnetjies geleidelik met ’n vloeistof gevul sodat die vel kan rek en dit gebruik kan word vir die prosedure.

Dr. Nikita Blake, senior rekonstruktiewe chirurg by die hospitaal, het verduidelik dat die span chirurge nou die nuwe vel gaan gebruik om op Kananelo se nek oor te plant sodat hy weer sy kop vrylik sal kan beweeg.

Zolile Zazini met sy dogter, Linomtha Zazini wat rekonstruktiewe chirurgie ontvang het weens ’n oop verhemelte.Foto: Lientjie Mentz

“Hierdie chirurgie gaan help dat hy nie net meer mobiliteit sal hê nie, maar ook dat sy lewensgehalte gaan verbeter,” het sy gesê.

Met die chirurgie hoop die span dit sal ’n einde bring aan die erge boelie-gedrag wat dié jong seun sy lewe lank moes verduur.

Tarri Parfitt, uitvoerende hoof van die Smile-stigting het die mediese span en hospitaalpersoneel bedank vir hul onbaatsugtige werk tydens Smile week. Sy het ook die Vodacom-stigting bedank wat geldelik bygedra het om met hierdie week ’n verskil in kinders se lewe te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.