Jong kragman (17) behaal tweede plek in groot kampioenskap

’n Suid-Afrikaanse kragopteller en matriekleerling aan Grey-kollege (sekondêr) het ’n silwermedalje in ’n kragoptelkampioenskapskompetisie in Potchefstroom verower.


’n Suid-Afrikaanse kragopteller en matriekleerling aan Grey-kollege (sekondêr) het ’n silwermedalje in ’n kragoptelkampioenskapskompetisie in Potchefstroom verower.

Janco du Plooy (17) was tweede in die sub-junior afdeling (o. 93 kg) van die Asiaties-Pasifiese en Afrika-kragoptel-en-bankdruk-kampioenskapsbyeenkoms.

Hy het 205 kg in hurksit, 135 kg in bankdruk en 225 kg in dooie­gewigoptel gelig.

Die kompetisie het op 6 Julie begin en duur nog tot Saterdag, maar die deelnemers in Janco se afdeling­ het reeds op 7 Julie meegeding. Hy sê hy is baie tevrede met sy uitslae en dat hy gaan werk om daarop te bou.

Janco het Suid-Afrikaanse kleure in kragoptel en staan tweede in sy afdeling.

Hy is genooi om in Augustus aan die wêreld-kampioenskapsbyeenkoms in Malta te deel te neem, maar weens akademiese verpligtinge kan hy dit nie bywoon nie.

“Die byeenkoms is ongelukkig tydens Janco se rekordeksamen, en hy het besluit om eerder op sy akademie te fokus,” vertel sy pa, Etienne.

Janco beplan om ná skool ’n oorbruggingsjaar aan te pak, sodat hy ’n beter idee kan kry van die beroep wat hy wil beoefen­.

Hy was nie altyd een wat lief was vir oefen nie en het eers twee jaar gelede die eerste keer kragoptel gedoen. Vandag kan hy hom nie sy lewe daarsonder indink nie.

Sy vriend Ewan Boshoff (18), ook in Grey, het hom oorspronklik gemotiveer om saam met hom te begin oefen.

Boshoff is vandag ’n Suid-Afrikaanse kampioen in kragoptel.

“Die dissipline wat kragoptel my geleer het, beïnvloed elke­ aspek van my lewe,” het Janco vroeër gesê.

Janco sê dat hy baie dankbaar is vir sy afrigter, Ricardo Barreto, wat hom elke dag aanmoedig om beter te doen.

You need to be Logged In to leave a comment.