Vanjaar se New Breed-kompetisie bied verskeie mentorskap-sessies om ontluikende kunstenaars te bemagtig.
Die eerste van die sessies vind Saterdag (21/05) om 10:00 by die Oliewenhuis-kunsmuseum plaas.
’n Mentorskapprogram is ontwikkel wat voornemende deelnemers leiding sal gee totdat die kompetisie in September begin.
Magdel Louw, die kompetisie-koördineerder en bemarkingsbestuurder van die prokureurs Phatshoane Henney, sê die agt wenners wat deur die meule is, sal belangstellendes help.
Die Vrystaatse Kunskollektief (Free State Art Collective) is die eerste aanbieder. Vorige New Breed-wenners en -finaliste wat lede is, sal by die geleentheid betrokke wees.
Die bedrywighede begin Saterdag om 10:00 by Oliewenhuis.
Louw moedig alle jong kunstenaars aan om hier wenke te kry oor hoe om hul kreatiwiteit toe te pas en hul talent te ontwikkel sodat hulle ’n mededingende eindproduk kan lewer. Intensiewe aandag sal aan elkeen gegee word, wat soveel vrae kan vra as wat hulle wil.
Die program word gratis aangebied, maar deelnemers moet hul bywoning per e-pos by azola@phinc.co.za bevestig.
Die mentors is Baitumetse Moloabi (algehele wenner in 2021), Neo Theku (algehele wenner in 2019), Kay Fourie (naaswenner in 2019), Miné Kleynhans (merietewenner in 2019), Xola Sello (merietewenner in 2018), Bongani Tshabalala (die publiek se keuse in 2019), Nandipha Jantjies en Lesego Motsiri (albei finaliste in 2021).
Die volgende mentorskapgeleentheid is die Absa New Breed Art-webinaarreeks wat in vier dele oor sowat vier maande aangebied sal word. Kunstenaars kan aanlyn deur Zoom inskakel om hulp van bekende, gevestigde kunstenaars te kry.
In Augustus sal die nasionale kunsbank, oftewel Art Bank of South Africa, ’n virtuele slypskool met die titel “Professionele kunspraktyk” aanbied. In dié sessie sal raad gegee word oor hoe om kuns as ’n sake-onderneming te bedryf. Een van die nuttige wenke behels hoe om ’n prys vir jou werke te bepaal.
Al die inligting verskyn op die sesde New Breed-kompetisie se Facebook-blad en op Instagram. Dit is ook hier waar belangstellendes van meer geleenthede sal verneem en die aanloop tot die kompetisie kan dophou.
Die prysgeld is vanjaar weer R100 000, waarvan die wenner R50 000 ontvang en die naaswenner R20 000. Die twee merietewenners en wenner van die publiek se keuse sal elkeen R10 000 in hul sak steek.
Voordele vir kunstenaars wie se werk vir die uitstalling gekeur word, is insluiting by die Vrystaatse Kunskollektief en blootstelling deur Art Bank South Africa. Dit is ’n nasionale program van die departement sport, kuns en kultuur, wat uitsoekkuns van opkomende kunstenaars koop.
Belangrike datums vir vanjaar se New Breed-kompetisie vir visuele kunstenaars van die Vrystaat is:
* 12 tot 14 September – inskrywings word by die Oliewenhuis-kunsmuseum ingehandig;
* 4 Oktober tot 13 November – uitstalling van gekeurde werke in Oliewenhuis;
* 4 tot 31 Oktober – die publiek stem op die webblad vir hul gunsteling-werk; en
* 3 November – kompetisiewenners word op ’n formele geleentheid aangekondig.
Inskryfvorms is te kry by newbreedart.co.za, Phatshoane Henney by Markgraaffstraat 35 of Oliewenhuis.