Altesaam 224 jong rolbalspelers van oor die land heen gaan van Vrydag 22 Maart tot Maandag meeding in die jaarlikse junior rolbaltoernooi wat by die Orangia- en Oud-Studente-rolbalklub in Bloemfontein plaasvind.
Orangia is die gasheer vir die o.15- en o.18-spanne. Daar gaan 14 spanne in die o.15-ouderdomsgroep en 21 in die o.18-ouderdomsgroep meeding.
Op Oud-Studente se bane gaan 21 spanne in die ouer o.25-afdeling speel.
Die toernooi begin Vrydag met ’n amptelike opening om 07:45 by Orangia, waarna die spelers met hul wedstryde by die twee klubs begin.
Die uitspeelwedstryde en die eindstryde vind Maandag van 08:30 af by Orangia plaas en die prysuitdeling en afsluiting begin om 11:15.
Hennie Stander, president van die Orangia-rolbalklub, waar die meeste van die wedstryde beslis word, sê dit is ’n wanpersepsie dat rolbal slegs vir ouder mense is.
“Dit is merkwaardig om die jongmense se spel te volg en te sien met hoeveel entoesiasme en vaardigheid hulle rolbal beoefen. Daar is selfs sewe- en agtjariges in die o.15-groep wat met spesiale kleiner balle speel.”
Stander sê rolbal is beslis ’n spel wat onder jongmense groei.
“Ons sien uit om die toernooi hier te huisves en die jongmense se spel dop te hou.”
Die publiek is welkom om die jongmense te kom ondersteun.