Vier jong Bloemfonteinse sjefs neem Donderdag (13/10) aan die finale ronde van die RCL Foods Jong Sjef en Jong Bakker-kompetisies in Durban deel.
Twee spanne, dié van Khomotso Nthabiseng Mashie en Emelda Thandeka Salman en Shané Meyer en Contessa Janse van Rensburg, almal van die Food and Beverage Institute (FBI) in die stad, het deurgedring na die finale ronde van dié kompetisie.
Die jong sjefs van die Vrystaat asook KwaZulu-Natal, Limpopo, Gauteng en die Wes-Kaap gaan dit uitspook om die topplek in dié kompetisie.
Die wenspan sal R15 000 elk ontvang, die span wat tweede kom R10 000 en die spanlede wat derde kom, kry elk R7 500.
In die finale ronde van die kompetisie gaan die jong sjefs kook met voorafbepaalde bestanddele sowel as geheime bestanddele. Die jong sjefs moes vooraf resepte indien wat hulle vir ’n restaurant se hoofgereg sou bedien, met ’n innoverende nagereg wat hulle Donderdag sal kook, saam met ’n voorgereg van bestanddele wat hulle eers daar sal ontvang.
Saam met die jongsjefkompetisie, neem jong bakkers van drie provinsies ook aan die jong-bakkerskompetisie deel.