Jana Swanepoel, ’n gr. 6-leerling van die Laer Meisieskool Oranje, was ’n kategoriewenner in die afdeling vir landbou op die Eskom Internasionale Wetenskap-ekspo wat van 7 tot 9 Desember in Boksburg aangebied is.
Daar het 253 jong wetenskaplikes sowel as 17 deelnemers van Brasilië, Ghana, Kenia, Lesotho, Mosambiek, Turkye en Zimbabwe aan die ekspo in Boksburg deelgeneem.
Dit is die eerste Eskom Internasionale Wetenskap-ekspo wat sedert 2019 aangebied is.
Jana se projek het gehandel oor die soeke na die beste groeimedia wat in die Kratky-hidroponiese stelsel gebruik kan word.
Die Kratky-hidroponiese stelsel is ’n tipe hidroponika wat nie afhanklik is van meganiese stelsels of pompe om water en voedingstowwe na die plant te bring nie. Die plant word in ’n houer met voedingstof-ryke water geplaas.
“Ek hou baie van plante,” vertel Jana, dogter van dr. Jan Swanepoel, ’n senior lektor en navorser aan die departement volhoubare voedselstelsels en ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
“Ek en my pa het al baie hidroponiese stelsels gebou en groente gekweek. As ek genoeg plantjies het wat mooi en sterk is, hou ek ’n straatmark en verkoop my plantjies aan die bure.”
Jana sê haar doel met die projek was om ’n goeie alternatief vir kompos te kry. Sy het plantjies in vier verskillende groeimedia – gewone water, wurmtee, skaapkraalmis en regte, oplosbare hidroponiese kunsmis – met mekaar vergelyk.
“Hoewel die oplosbare hidroponiese kunsmis die beste groeimedium vir my blaarslaaiplantjies was, het die slaai amper net so goed in die skaapmis en wurmtee gegroei.”
Sy sê die Kratky-metode werk baie goed vir mense wat nie altyd grond beskikbaar het nie. “Die metode is goedkoop en effektief en mense kan vir hulself groente en kruie kweek.”