’n Vioolseminaar vandeesweek in Bloemfontein is ’n gulde geleentheid vir jong violiste, studente, onderwysers, dosente, amateurs en almal wat hul spel wil verbeter of hul onderrig wil opskerp.
Louis van der Watt, ’n oud-Bloemfonteiner en hoof van die strykerdepartement aan die Universiteit Stellenbosch (US), is die aanbieder.
Hy sal fokus op die posisie van die viool en van die linkerhand, die regte manier om die strykstok vas te hou, stryktegnieke vir beginners en die onderrig van toonlere en arpeggio’s.
Daar is ook ’n geleentheid om vrae te vra.
Van der Watt was van kindsbeen af betrokke by musiek, hoewel hy eers grade in filosofie en teologie verwerf het voordat hy hom op musiekstudie toegespits het. Aanvanklik het hy die onderwyser- en voordraerslisensiate van Unisa en die Royal Schools of Music voltooi, waarna hy in 1986 as hoof van die strykerafdeling by die Hugo Lambrechts-musieksentrum in Parow, Kaapstad, aangestel is.
In die pos wat hy tot 1998 beklee het, het hy BMus aan Unisa studeer en het dit opgevolg met ’n honneursgraad in musiek aan die US. Hy is sedert 2000 ’n dosent in die US se musiekdepartement.
Benewens viool en altviool speel hy ook orrel en het in 2011 ’n MMus in kerkmusiek verwerf en in 2020 ’n doktorsgraad.
Van der Watt het al verskeie kore gelei, speel in verskeie orkeste van die US, was jare lank die genooide dirigent van die strykorkes op die Suid-Afrikaanse Jeugorkeskursus, en is ’n Unisa-eksaminator.
Hy tree ook dikwels as eksterne eksaminator op vir universiteite in Suid-Afrika en vir die konservatorium in Windhoek.
Die vioolseminaar in Bloemfontein word Vrydag (05/11) van 15:00 tot 18:30 en Saterdag (06/11) van 09:00 tot 16:00 in die NG kerk Berg-en-Dal aangebied.
Dit is gratis vir studente en dosente van die Odeion Skool vir Musiek (OSM) en vir lede van die Mangaung-strykerprojek. Onderwysers, leerlinge, ouers en ander belangstellendes betaal R100 per dag.
) Bel Sharon de Kock by 082-434-7501 of dekocksh@ufs.ac.za.