In aksie in die spankompetisie in die o.17-kampioenskap is van links Vrystaters Charltin en Marlie Dednam. Hier speel hulle teen KwaZulu-Natal se B-span. Foto’s: Lientjie Mentz

Die Suid-Afrikaanse o.17-pluimbal-kampioenskapsbyeenkoms het op Sondag 5 Oktober by die Fichardtpark-sportklub in Bloemfontein begin en duur nog tot Saterdag.

Die nasionale sportbyeenkoms het ‘n groot aantal jong spelers van oor die land heen saamgebring, met 12 spanne wat hulle ingeskryf het en sowat 100 kinders wat deelneem.

Die kompetisie was uiters sterk en die geesdrif hoog, met spanne wat alles gee om hul provinsie trots te maak.

Bronwynn Shute (12) and Aiden Dednam (14) het Dinsdag deelgeneem in die spankompetisie van die o.17-toernooi.

Die Vrystaat-span, bestaande uit die boeties Aiden en Charltin Dednam, Shaun Dednam, Eben Sander, Hsuan-Wen Tung, Bronwynn Shute, Marlie Dednam, Ming-Rui Tung en Giselle van Niekerk, het hulself goed van hul taak gekwyt. Die span was derde in hul groep van ses en behaal uiteindelik die sewende plek algeheel − ‘n puik prestasie, veral met jong spelers, soos Marlie wat net nege jaar oud is.

Die hoogtepunt van die week was die span-eindstryd Dinsdag. In ‘n spanningsvolle wedstryd het Oos-Gauteng se A-span teen Johannesburg-distrik te staan gekom. Die uitslag was kop-aan-kop, vier wedstryde elk.

Die uitslae van die kompetisie is:

1. Oos-Gauteng A;

2. Johannesburg-distrik;

3. Kaapstad;

4. Noord-Kaap;

5. Grens;

6. KwaZulu-Natal A;

7. Vrystaat;

8. Oos-Gauteng B;

9. Boland;

10. Oostelike Provinsie;

11. Namibië; en

12. Kwa-Zulu Natal B.

Die individuele Suid-Afrikaanse o.17-kampioenskapsbyeenkoms begin Donderdag, met die eindstryd wat Saterdag om 17:00 gespeel word, ook by die Fichardtpark-sportklub soos al die ander wedstryde.

Lees in volgende week se BloemNuus die uitslae van die kampioenskap, asook meer oor die senior pluimbaltoernooi − genaamd die Melvillebeker − wat van 11 tot 18 Oktober in Bloemfontein sal plaasvind.

Van die vertoonwedstryde hiervan gaan in Mimosa Mall gespeel word, waar toeskouers die spel gratis kan ervaar.

In aksie in die spankompetisie in die o.17-kampioenskap is van links Vrystaters Charltin en Marlie Dednam. Hier speel hulle teen KwaZulu-Natal se B-span. Foto’s: Lientjie Mentz

You need to be Logged In to leave a comment.