Jonges reg vir lesse

Terwyl die gr. 1’s rustig ingekleur het aan ’n prent wat hulle by die Laer Meisieskool Oranje welkom heet, het ’n paar mammas ’n traan gepik oor hul spruite se eerste dag in die groot skool.


Lily Erasmus (links) en Karlé Buitendach sê hulle is reg vir hul eerste dag in juf. Anika van der Merwe se gr. 1-klas aan die Laer Meisieskool Oranje. Foto’s: Lientjie Mentz

Terwyl die gr. 1’s rustig ingekleur het aan ’n prent wat hulle by die Laer Meisieskool Oranje welkom heet, het ’n paar mammas ’n traan gepik oor hul spruite se eerste dag in die groot skool.

Een van ’n tweeling in juf. Isabel Eksteen se klas, Maylee Steyn, het die dogtertjie in haar prent se rokkie soos ’n reënboog ingekleur.

“Dit is omdat ek ook so ’n reënboogrok het,” gesels sy.

Haar sussie, Miné, is in dieselfde klas as sy.

Die meeste van die meisies is opgewonde daaroor om in die groot skool te wees, maar sê groot-oog hulle weet nog nie wat hulle gaan leer nie.

Lizé Miles saam met pappa, Edward, en mamma, Marlize, in juf. Linda van Rooyen se klas.

Hulle was onder die duisende gr. 1-leerlinge wat Woensdag (11/01) hul eerste amptelike skooldag by laerskole oor die land heen begin het.

Die Vrystaatse LUR vir onderwys, dr. Tate Makgoe, het met die opening van skole die twee laerskole Joe Solomon en Gonyane in Bloemfontein besoek.

Hy het die amptenare, onderwysers en leerlinge welkom geheet vir die nuwe akademiese jaar.

“Ons wag nog op die matriekuitslae van 2022, wat binnekort aangekondig sal word, maar die departement is vol vertroue dat 2023 ’n wonderlike jaar gaan wees – en ons doen ’n beroep op die gemeenskap en ons opvoedingsvennote om ons leerlinge en onderwysers te ondersteun,” het hy in ’n nuusverklaring gesê.

Volgens die departement van basiese onderwys sal die matriekuitslae op Vrydag 20 Januarie amptelik bekend gemaak word.

Die tweeling Maylee en Miné Steyn saam met juf. Isabel Eksteen.

Busi Soka maak solank reg om haar prentjie in te kleur.

Van links is Izay Kritzinger, Sunise Kleynhans en Zoë van Niekerk in juf. Isabel Eksteen se klas. Al die gr. 1’s aan Oranje het die dag begin met ’n inkleurprent wat hulle welkom heet in gr. 1.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.