Die oë het gerek toe kinders in tradisionele Volkspele-drag Vrydag (15/07) by die Preller-plein-winkelsentrum op maat van Volksliedjies passies uitgevoer het. Omstanders het dié verrassingsoptrede baie geniet.
Die groep was deel van 75 kinders van oor die land heen wat van 10 tot 15 Julie die Nasionale Pellissierweek in Brandfort en Bloemfontein bygewoon het.
Tydens die saamtrek het leerlinge van gr. 5 tot gr. 12 van so ver suid soos Kaapstad en so ver noord soos Polokwane bymekaargekom om hul spel en sang te verfyn en meer oor die geskiedenis en erfenis van Volkspele te leer.
Die kursus kon weens die Covid-19-pandemie twee jaar lank nie aangebied word nie, en dit was heerlik vir kinders om eindelik weer die saamtrek in die Vrystaat by te woon.
Liza Janse van Rensburg, ’n gr. 7-leerling aan die CVO-skool Dankbaar buite Bloemfontein, sê dit is die eerste keer dat sy aan die spele deelneem, hoewel sy al vorige saamtrekke bygewoon het.
Stacy-Lee Robinson, ’n gr. 11-leerling van Pretoria, sê Volkspele is vir haar lekker omdat sy voortdurend nuwe mense leer ken.
“My ouma en oupa het Volkspele gedoen en ek wou ook deel daarvan wees. Ek geniet die passies en ritme.”
Ook A-Nell Waldeck en Theuns van Rhyn, albei gr. 10-leerlinge van Bloemhof, het die week en veral die spele baie geniet.
Die week se verrigtinge is met ’n geselligheid by die AP kerk in Rooiwalsingel, Fleurdal, afgesluit met ’n ete en ’n vertoning van wat die kinders gedurende die week geleer het.
Die kinders het benewens die Volkspele liedjies gesing, en ’n paar het hul vaardighede in sweepslag getoon.