Kinders wat ’n verskil maak in die gemeenskap, is tydens ’n spesiale geselligheid beloon met die eerste DNB Maak ’n Verskil-eerbewys.
Lilian Zaaiman, stigter en direk- teur van die netwerkgroep Dinamiese Netwerk Bemarking (DNB), sê sy hoop die projek kan groei en volgende jaar meer inskrywings kry van groepe jong mense en individue jonger as 18 jaar om deel te neem aan die projek.
Die ekonoom Dawie Roodt was die gasspreker op die geleentheid en Hermien Klopper van Entrepreneurial Business Consulting (EBC) het met die kinders gesels oor hoe sy studieleiding vir ’n loopbaankeuse kan gee.
Die Bloemfonteinse Landsdiensgroep die Kwaggas, was die eerste wenners in die projek.
Lize Fourie, klubleier van die Kwaggas, sê die groep doen talle projekte. Nie net doen hulle as groep nou ’n groot herwinningsprojek nie, maar die leiers van die groep het elk ’n individuele projek waar hulle ’n verskeidenheid nie-winsgewende organisasies ondersteun.
As prys, het al die lede van die groep ’n geskenkbewys vir ’n ete by Goodburger gekry en as groep het hulle ’n skenking van R3 000 van DNB gekry wat gebruik kan word om hul projekte te ondersteun. Tydens die geleentheid, het DNB ook ’n tjek van R3 000 aan Kobus Venter van Solidariteit Helpende Hand vir die DNB-studiefonds oorhandig.
“Kinders moet van jongs af leer om betrokke te wees in die gemeenskap,” het Zaaiman op die geselligheid op 22 Maart by The Buffalo gesê.
Klopper, wat sowat 13 jaar in die buiteland gewerk het in onder meer Qatar en China en ’n groot passie vir loopbaanleiding vir kinders het, maar ook vir volwassenes, sê sy is bly sy is terug in haar tuiste en wil graag jong mense help om te weet wie hulle is en watter loopbane by hulle sal pas.
Sy sê van die beroepe wat nou wêreldwyd in aanvraag is, sluit in grafiese ontwerper, ontwikkelaar, digitale bemarker, maatskaplike werker en sielkundige.
Volgens Roodt is daar wêreldwyd groei en beleggingsgeleenthede in vier bedrywe wat geleenthede vir jong mense skep. Die eerste is landbou met ’n sterk oplewing in gesofistikeerde toerusting; draagbare tegnologie soos slim-horlosies; onderwys met ’n fokus op vaardigheidsontwikkeling en die internet wat leer oor grense heen vergemaklik; en die finansiële bedryf waar tegnologie toenemend die bedryf gaan oorheers.
Roodt sê sy raad aan entrepreneurs is om nie werk te probeer skep nie.
“Werk hard aan jou onderneming om ekonomies te groei. ’n Onderneming wat groei en uitbrei, skep outomaties werk.”
Hy sê elkeen kan op verskillende maniere bydra tot die sukses van Suid-Afrika.