Die netwerkgroep die Dinamiese Netwerk Bemarking (DNB) wil jongmense wat ’n verskil maak in hul gemeenskappe, beloon.
Individuele jongmense tot en met 18 jaar en groepe jongmense kan hulle nog tot 28 Februarie vir DNB se Maak ’n Verskil-projek inskryf.
Lilian Zaaiman, stigter en direkteur van DNB, sê met dié projek wil hulle jongmense aanmoedig om sonder vergoeding betrokke te raak in die gemeenskap.
“Ons wil sien hoe ons jongmense aktief in hul gemeenskap goeie dade verrig. Daar is pryse op die spel vir die twee afdelings, vir individue en ook vir groepe jongmense.”
Die eerste inskrywing wat ontvang is, is in die afdeling vir groepe van die Kwaggas Landsdiensgroep vir hoërskoolleerlinge in die stad. Die Kwaggas het verlede jaar onder meer ’n oggend lank gaan uithelp by die Sunflower House om die personeel wat baie siek kinders versorg, se las ’n bietjie ligter te maak. Verder het die Kwaggas vir Solidariteit Helpende Hand gehelp om 300 rugsakkies te pak en hulle het ook gehelp by die ATKV Gemeenskapsteatertak se #Weesdieverskil-fees wat in Desember by die Oorlogsmuseum aangebied is.
Die wenners van die Maak ’n Verskil-projek word op ’n geselligheid op 22 Maart by The Buffalo afgesluit met ’n prysuitdelingsgeselligheid waar bekende ekonoom Dawie Roodt van die Efficient Groep, die gasspreker sal wees.
Roodt sal in sy praatjie fokus op die toekoms van die jeug in Suid-Afrika. Die publiek is welkom om dié geleentheid.
- Op die geselligheid sal Hermien Klopper van Entrepreneurial Business Consulting (EBC) ook gesels oor loopbaanleiding met ’n verskil. Zack Steyn is die gaskunstenaar op die geselligheid. Kaartjies vir die geselligheid kos R400 en R4 000 vir ’n tafel van tien. Besoek dnbnetwerk.co.za vir meer inligting oor die Maak ’n Verskil-projek of rig navrae aan Zaaiman by 084-512-9784.