Ekonoom Dawie Roodt wil jong entrepreneurs ondersteun

, ,

Jongmense kan nou inskryf vir ‘n unieke Entrepneurskap-uitdaging

'n Gratis entrepreneursprogram word nou vir jongmense aangebied.
‘n Gratis entrepreneursprogram word nou vir jongmense aangebied. Credit: Verrskaf

Die bekende ekonoom Dawie Roodt in vennootskap met Afrikaans 100 en die musikant Majozi bied ‘n gratis vyf-week aanlyn entrepreneurskap-uitdaging vir Suid-Afrikaanse jongmense tussen 9 en 16 aan.

Koa Akademie bied die program, wat deur die Pranary-sakeskool geakkrediteer is, vir alle leerlinge, aan, ongeag van hul skool of ligging. Die program word aangebied om vir aspirant-entrepreneurs die geleentheid te gee om by bedryfsleiers kers op te steek. Dit sal jongmense bemagtig om binne weke hul eie klein besigheid te kan begin.

Dawie Roodt,bekende spreker en
hoofekonoom van die
Efficient Groep. Foto: Verskaf

Die inisiatief is beskikbaar in beide Afrikaans en Engels en het ten doel om van jongs af entrepreneuriese denke te kweek, om jong kinders met oemf en vernuf toe te rus met die nodige vaardighede en ingesteldheid, en om suksesvolle besighede te skep en vol te hou.

Roodt sê die kursus wil ’n honger onder jongmense aanwakker, om soos entrepreneurs te dink.

Die werklike voordeel van klein ondernemings, is hul potensiaal om te groei.

– Dawie Roodt

“Die meeste klein ondernemings is in oorlewingsmodus. Die werklike voordeel van klein ondernemings, is hul potensiaal om te groei tot medium- en groot ondernemings, wat tot die ekonomie kan bydra. Om dit te kan doen, moet jy van kleins af soos ‘n entrepreneur begin dink.”

“Jy moet jouself vertrou en die grondbeginsels leer, om jou idee na die volgende vlak te neem. Baie entrepreneurs leer terwyl hulle werk, en ons mentorskap-program wil hulle toerus met waardevolle lewens- en sakelesse, om groot spronge te maak en hulself te verras met dit wat hulle kan bereik.”

Studies dui daarop dat 60% tot 80% van alle klein besigheide in Suid-Afrika in hul eerste 12 tot 24 maande sal faal, weens onvoldoende sakebeplanning en -kennis, bestuurservaring en finansiële bestuursvaardighede. Met die Entrepreneurskap-uitdaging is daar hoop om jongmense met die nodige hulpmiddels toe te rus om hierdie struikelblokke te oorkom en volhoubare sakemodelle te skep.

Die kursus sal leerlinge toerus om probleme te identifiseer, oplossings te ontwikkel en dit in winsgewende ondernemings te omskep. Regstreekse afrigting en -mentorskap sal verskaf word, wat persoonlike terugvoer en leiding bied, om leerders te help om hul besigheidsidees te verfyn en bekend te stel.

Deelnemers bied hul konsepte aan ‘n beleggerspaneel en die belowendste besigheidsvoorstelle sal ‘n kontantbedrag ontvang om hul besigheid te begin en afrigting om hul momentum te behou.

Rene Arendse van Afrikaans 100 sê: “Ons praat en skryf Afrikaans al vir honderde jare, maar vanjaar vier ons ons 100ste verjaarsdag as amptelike taal. Dié veldtog, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), word deur ’n wye groep Afrikaanse organisasies ondersteun en het verskeie inisiatiewe geloods om Afrikaans – en haar toekoms – te vier.”

“Ons gryp die kans aan om ook in die sakewêreld met Afrikaans die toekoms tegemoet te gaan. Watter beter manier as om hande te neem met ervare sakeleiers wat hul ervaring met die ekonome, entrepreneurs en sakeleiers van die toekoms kan deel en sodoende die jeug se vaardighede ontwikkel.”

Sy sê: “Ons wil ‘n inklusiewe viering hou – wat alle Afrikaanssprekendes gelyke geleentheid bied om deel te word én die belangrikheid van elke Afrikaanssprekendes se rol in die voortbestaan van die taal uit te lig – en dit sluit ook entrepreneurskap in. Hierdie kursus is ‘n verlengstuk van ons visie.”

Die aanpasbare kursusstruktuur stel leerlinge in staat om die aktiwiteite en lesse teen hul eie tempo te voltooi. Weeklikse regstreekse mentorskapsessies sal vorderingsopdaterings, waardevolle insigte, leiding- en strategieverfyning ter voorbereiding van die finale belegger-aanbod verskaf.

Die kursus dek teoretiese- en praktiese noodsaaklike entrepreneurskonsepte soos besigheidsbeginsels, die identifisering van persoonlike sterkpunte en waardes, kreatiewe probleem-oplossingstegnieke, praktiese stappe oor hoe om jou eie besigheid te begin, bemarking en hoe om ‘n impakvolle aanbieding aan kliënte en beleggers voor te berei en te lewer.

Majozi, ‘n beoordelaar vir die uitdaging in Engels, sê volgens die jongste Global Entrepreneurship Report is die vrees om te misluk, een van die grootste bydraende faktore waarom klein besighede nie volhoubaar is of sukses behaal nie.

“Baie mense is bang vir die onbekende maar entrepreneurskap is ‘n proses van leer, mislukking en groei. Om uitdagings prontuit te trotseer, bou veerkragtigheid en selfvertroue.”

“Praktiese blootstelling – soos om jou idees as ‘n sylyn te toets, bied ‘n laerisiko-omgewing om vaardighede te ontwikkel en selfvertroue te bou. Dit is nie genoeg om net ‘n vaardigheid of ‘n idee te hê nie. Jy moet jouself toerus met kennis én ‘n netwerk entrepreneurs by wie jy kan leer. Ek het as musikant geleer dat ek ‘n besigheid is – daar is soveel meer aan my loopbaan as om optetree.”

Mark Anderson, Koa Academy-hoof, sê die kursus het ten doel om ‘n kultuur van entrepreneurskap te kweek.

“Entrepreneurskap gaan oor innovasie, kritiese denke en om die mededingende voorsprong te behou. Dit verg nuuskierigheid, gretigheid en ‘n gewilligheid om gesamentlike oplossings te vind, wat werkloosheid en gemeenskapsuitdagings aanspreek.”

“Ons glo sterk in die transformerende krag van entrepreneurskap. Deur die jeug bloot te stel aan entrepreneurskap-vaardigheidsopleiding, ondersteun ons leerders om veerkragtig en aanpasbaar te word, deur ‘n magdom kennis en ervaring uit die mentors en beleggers te put.”

Met suksesvolle voltooiing, sal leerlinge ‘n Vlak 1 Entrepreneurskapsertifikaat, wat deur die Pranary Besigheidskool geakkrediteer is, ontvang.

Sandra Phiri, uitvoerende hoof van die Pranary Besigheidskool, sê entrepreneurskap opvoeding bou noodsaaklike lewensvaardighede, probleem-oplossing, veerkragtigheid en finansiële geletterdheid.

“Entrepreneurs skep nie net werk nie, hulle sien ook geleenthede waar ander struikelblokke sien. Hierdie kursus sal leerlinge voorberei om geleenthede te identifiseer, oplossings te ontwikkel en dit uit te voer – of hulle nou kies om hul eie besigheid te begin of nie.”

“Aan die einde van die kursus gaan ons soek na duidelike probleem-identifikasie, lewensvatbare oplossings, praktiese implementeringsplanne en vroeë vastrapplek. Passie en vasberadenheid is net so belangrik as die besigheidsidee self.”

Registrasie is oop en sluit op 1 Mei en die kursus begin op 5 Mei.

Registreer aanlyn en spring met oemf uit die wegspringblokke.

Categorised:, ,

You need to be Logged In to leave a comment.