Kinders van so jonk soos twee jaar oud kan vaardigheid in die kombuis kom aanleer en opskerp by Kiddies Kitchen.


Kinders kan sommer van jongs af leer om lekker kos te maak by ’n spesiale kinderkookskool in die stad.

Marisna Strauss van Dan Pienaar het ’n liefde vir kinders en kosmaak, wat natuurlik gelei het tot haar droom om haar eie skool te hê – of ’n gerief waar sy kinders kan leer van die kombuis en om kos te maak.

Nadat sy haar honneursgraad in verbruikerswetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwerf het, het sy ook haar nagraadse onderwysdiploma voltooi.

“Ek is baie lief vir kinders en ’n droom van my was om eendag n skool of fasiliteit te hê waar ek kinders kan leer van die kombuis en kosmaak.“Ek was van kleins af baie lief vir die kombuis en wil daardie passie graag oordra. Nadat ek in 2014 getroud is, het ek vir kort rukkies skoolgehou by verskeie skole, maar kon nie ’n vaste pos iewers kry nie,” sê Marisna.

Dit het daartoe gelei dat die idee van haar eie kookskooltjie ’n ernstige oorweging geword het.

“Ek het my kinderkombuis by die huis ingerig en het die eerste klassies in Julie 2015 aangebied. Kiddies Kitchen is gebore – die eerste kookskool vir kinders in Bloemfontein,” sê sy.

Die klasse word aangebied onder die naam Little Chefs, vir twee- tot ses-jariges, en Junior Chefs, vir sewe- tot 14-jariges.

Little Chefs het ’n uur een keer per week klas, waartydens een resep gemaak word.

Resepte is spesifiek ontwikkel sodat klein kinders dit maklik kan baasraak. Dit bevorder ook fyn motoriese vaardighede, stel hulle aan smake en teksture van verskillende bestanddele bloot en help volgens Marisna in baie gevalle met geite wat kleintjies met sekere kossoorte het.

Van die resepte vir Little Chefs-klasse sluit in dié vir muffins, broodjies, klein koekies, pastageregte en poeding. Kinders mag mors en hulself net geniet.

Die Junior Chef-klasse is meer gevorderd en word ook een keer per week, vir 2twee uur lank, aangebied, waartydens twee resepte gemaak word.

Anders as die Little Chefs, kan hulle al lees en moet hulle self hul bestanddele gaan kry, afmeet en weeg soos benodig.

Junior Chefs maak iets van alles, soos pannekoek, plaatkoekies, koek, brood, vleisgeregte, pasta en beskuit.

Deur die loop van die kwartaal is weekliks gewone klasse en gedurende skoolvakansies word vakansieprogramme aangebied.

“Ek bied ook Kiddies Kitchen-klasse by kleuterskole aan en doen kinderpartytjies by my huis. In die oggende besoek ek kleuterskole, en in die middae kom kinders na my perseel vir klasse.”

Hoewel Kiddies Kitchen meestal op kinders gemik is, bied Marisna ook soms kookklasse vir huishulpe aan.

) Gaan like Kiddies Kitchen op Facebook vir meer inligting. 

You need to be Logged In to leave a comment.