Jongspan laat skiet met dié sport

Deelnemers van tot so jonk as 5 jaar het die naweek deelgeneem aan die Vrystaatse kettieskiet-ope-toernooi wat op die Nebo-landgoed net buite die stad aangebied is.


Deelnemers van tot so jonk as 5 jaar het die naweek deelgeneem aan die Vrystaatse kettieskiet-ope-toernooi wat op die Nebo-landgoed net buite die stad aangebied is.

Deelnemers van sover as die Wes-Kaap, Gauteng en Mpumalanga het deelgeneem aan die baan- en veld-items in die toernooi.

Teikens is op afstande van 5 m, 10 m, 15 m en 20 m geskiet.

Henk le Roux, voorsitter van Vrystaat-kettieskiet, sê hulle was baie tevrede met die opkoms na die toernooi.

“Dit was wonderlik dat daar so baie jong skuts aan die toernooi kom deelneem het.

“Die toekoms van die sport lê in kinders. Dit is so lekker om die erfenis van kettieskiet met hulle te deel.”

Kettieskiet is onlangs as Die Voortrekkers se amptelike sport aangewys. Dit was die naweek egter nie net Voortrekkers wat vir die eerste keer kom deelneem het nie.

Vrystaatse kampioene wat die dag uitgeblink het, was Stiaan Maritz (8) van die Laerskool Universitas wat as die Vrystaatse laerskoolkampioen op 10 m aangewys is. FJ van Aswegen (11) van die Laerskool Willem Postma, is die Vrystaat-laerskoolkampioen oor 15 m.

Miané Bekker (13) van die Hoër Meisieskool Oranje is die Vrystaatse hoërskole-meisieskampioen. Conrad Botha (16) van die Hoërskool Jim Fouché is die Vrystaatse hoërskole seunskampioen. Die dag is op ’n hoogtepunt afgesluit met die prysuitdeling waar medaljes aan die wenners uitgedeel is. Die Vrystaat het geskitter en het ’n totaal van 71 medaljes: 32 goud, 21 silwer en 18 brons. Die Vrystaatspan bestaan uit Henk Le Roux, Adriaan Bekker en Conrad Botha.

“Kettieskiet as ’n sport groei vinnig in Suid-Afrika,” sê Le Roux.

“Daar gaan nog heelwat kompetisies in die Vrystaat plaasvind.”

Belangstellendes kan Le Roux by 065-960-4172 bel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.