Jou lewe bly my storie, Ma

Tien jaar gelede, op ’n kleurlose Noordwesdag, het Ma haar laaste reis deur die strate van Potchefstroom onderneem. Toe sy vir oulaas om die draai buite die aftreeoord verdwyn, het dit by my opgekom dat, indien sy sélf haar vaarwelrit kon beplan, sy


Tien jaar gelede, op ’n kleurlose Noordwesdag, het Ma haar laaste reis deur die strate van Potchefstroom onderneem. Toe sy vir oulaas om die draai buite die aftreeoord verdwyn, het dit by my opgekom dat, indien sy sélf haar vaarwelrit kon beplan, sy ’n ánder dag sou kies.

Ma sou ’n dag kies wat nie soos daardie trietsige Augustusoggend iewers in ’n sloot tussen winter en lente wegkruip nie. Ek weet sy sou graag daar in die eikelaan vir oulaas die skaduwees van die akkerbome wou sien rondspeel rondom Ferdie se begrafniswa. Om dit, wat haar altyd so gelukkig gemaak het te kon beleef, sou sy ’n geel somerdag kies, een wat vertel van laggende studente, eekhorings op die sypaadjie, een met die belofte van ’n laatmiddagreën. Sy sou ’n dag kies, so mooi soos sy.

Vir my het Ma en stories dwarsdeur my lewe hand aan hand geloop. Ma was altyd anders as ander ma’s, ook haar stóries het sy anders as ander ma’s vertel. Sy het selde kinderverhale voorgelees, sy het hulle sélf geskep met vingerkarakters wat teen die donker mure in my kamer dans en onheilspellende geluide wat my bangoog oor die opgetrekte laken laat loer. Dan, skielik, het Ma se stem stil geraak en moes ék die storie klaar vertel. Aand na aand het sy my verseker dat my storie-einde die mooiste is wat sy nog ooit gehoor het.

Ma het deur al die jare rotsvas langs Pa gestaan in die gemeentes, sáám met hom sy roeping volvoer. Nie bloot gedienstig en gedwee nie, maar omdat sy geglo het dat liefde en lojaliteit nooit geskei kan word nie, het sy op háár manier ’n septer van omgee en sorg, nie net binne ons gesin nie, maar ook oor dié van Pa se kuddes geswaai.

Vroeg in my lewe het ek reeds die rebelse streep wat van tyd tot tyd kop uitgesteek het by Ma, beleef. Hoe kan ek ooit die Staatspresident van weleer se besoek in 1967 aan ons klein Karoodorp vergeet? Ma het vir haar ’n lang swart satynromp met ’n glinsterende silwer bostuk uit die Kaap bestel. Nodeloos om te sê, daar langs Pa, wat die geleentheid in die volgepakte stadsaal geopen het, het sy, al skitterend, van die kerkraad tot elke ander dorpeling na hul asems laat snak. Jare daarna het sy dikwels oor dié pragstuk, wat steeds in haar kas gehang het, gestreel, altyd weer laggend vertel van al die wenkbroue wat destyds gelig het oor die pastoriemoeder in haar gewaagde moulose gewaad.

Ma, die verhaal van jou lewe, van jou mooiwees en andersheid, stap vandag nog voort. Soos jy my geleer het om baie jare terug, kindvry, aan elke aandstorie my eie laaste sin te gee, doen ek steeds vandag. Elke herinnering aan jou, elke staaltjie oor jou in ’n geselskap oorvertel, elke storie wat ek skryf oor jou, eindig altyd mooi, die mooiste wat ek nog óóit gehoor het, Ma.

You need to be Logged In to leave a comment.