‘Jou siel het die Brood van die lewe nodig’

“Die Woord van God kan ’n groot verandering aktiveer. Dit het baie krag,” sê ek vir ’n jongman, voordat ek die hospitaal verlaat.


“Die Woord van God kan ’n groot verandering aktiveer. Dit het baie krag,” sê ek vir ’n jongman, voordat ek die hospitaal verlaat.

Sy ma is ’n goeie vriendin van my. Sy is in die grootste geveg van haar lewe gewikkel. En al wat ek op die oomblik kan doen, is om uit die Bybel vir haar voor te lees.

Die jaarlikse Bybel-motorfietsrit-geleentheid na die Biker’s kerk in Bloemfontein is onlangs gehou.

Hierdie jaar was ekstra spesiaal, want die Afrikaanse vertaling van die Bybel vier 90 jaar.

Dominee Gerrie moes al in 2019 aftree, maar die dinge by die Bybelhuis hou hom te doenig.

Nes die vorige vyf jaar was daar weer ’n merkwaardige spreker by hierdie geleentheid. Rooies, soos hy bekend is, kom van Upington.

Hy en sy span het met ’n minibus-taxi gereis. Op die sykant van die bussie staan: Jesus laaik jou! in groot drukskrif.

Wat sal ek hom noem: boer, evangelis, radikale pasifis dalk? Hy is gloeikoolwarm vir Jesus se goeie nuus en veral vir die Woord. Hy smokkel jare reeds Bybels oor China se grense.

Hy het al ’n Bybel aan Rocketman se afvaardiging in Noord-Korea oorhandig en hy was onlangs in die Oekraïne. Daar is nie een kerrierooi-bang-haar op sy kop nie.

Rooies boer met krokodille, mielies wat hy self maal en verpak, en natuurlik met die verlossingsboodskap van alle tye. Sy passie is aansteeklik.

Die boodskap wat ek hoor, is God se Woord is kragtig. Maar daar is ’n voorwaarde: jy moet dit oopmaak en lees. Ek sien hoe Rooies stoei om die konsep oor te dra. Dis moeilik. Jy moes al deur die dal van doodskaduwee gestap het.

Self ervaar het hoe die geskrewe Woord kan herstel en genees. Rooies vertel hoe een Bybel die lewe van honderde, selfs duisende mense in China aanraak.

Op eie bodem het ons dikwels twee of drie Bybels in die huis.

Rooies verduidelik dat as jy bladsye uit ’n motorhandleiding sou skeur en nalaat om daardie dinge te versien, jou voertuig uiteindelik sal breek. En dis presies wat ons met die Bybel doen, ons lees en aanvaar sekere dele wat vir ons welgevallig is en spring bo-oor die dele wat vir ons outyds of irrelevant is.

In die afgelope maand gaan ek deur ’n dal van moedeloosheid. My hooptenk is dolleeg. Niks maak meer sin nie. Die Vertrooster dring my om meer Bybel te lees. En ek lees. En moenie my vra hoe nie. Dit werk.

Hoe meer ek lees, hoe ligter word my gemoed. Dit maak sin dat Paulus sê, God is die bron van hoop (Romeine 15:13).

Jy kan dit in geen winkel koop nie, slegs by die Vervaardiger kry.

Nes die mieliemeel wat Rooies so kwistig uitdeel, die liggaam voed; net so het jou siel en gees die Brood van die lewe nodig. Lees God se Woord totdat jy weer krag kry om op te staan.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.