Sy vyfjaarplan het beslis vrugte afgewerp, sê die afrigter van die Suid-Vrystaat se rolbalspanne wat goud en silwer op die nasionale kampioenskap gewen het.

Die kampioenskap vir die o.15- en o.18-spanne is van 29 Maart tot 1 April op die bane van die Orangia-rolbalbane gespeel, terwyl die o.25-spanne op die bane van die Oud-studente-sportklub meegeding het. Die finale is Dinsdag by Orangia gespeel.
Marius Jansen van Rensburg, afrigter van die spanne wat die week aan Rolbal Suid-Afrika se nasionale kampioenskap in Bloemfontein deelgeneem het, kan met reg trots wees op sy spanne.
Die o.18 A-span het in ‘n naelbytfinaal teen die span van Gauteng-noord met 18 – 16 gewen.
Dit is die eerste keer dat ‘n span van Suid-Vrystaat ‘n afdeling van dié kampioenskap wen.
Die plaaslike o.15A-span van wie daar baie verwag is, het in die finaal teen Westelike Provinsie A gespeel wat die Suid-Vrystaters met een punt gewen het.
Twee spanne van Botswana was onder die 96 spanne van oor die land heen wat aan die kampioenskap deelgeneem het.
Lyla Young, Rolbal Suid-Afrika se vise-president, sê hierdie indrukwekkende deelname beklemtoon die groeiende belangstelling en talent in junior rolbal oor die land heen.
“Die sukses van hierdie toernooi onderstreep die belangrikheid van jeugontwikkeling in rolbal en dien as ‘n bewys van die harde werk en toewyding van beide spelers en afrigters.”
Jansen van Rensburg sê wat lekker is van die plaaslike spanne, is dat almal goed gespeel het.
“Ons ontwikkelingspan wat almal minder as ‘n jaar speel, is almal leerlinge van die St Michael-skool. Hulle het goed gespeel en ons glo dat dit vorentoe goed sal gaan met hulle.”
