Twee dae nadat ’n gr. 3-leerling van die Laerskool Willem Postma se tande in ’n ongeluk in ’n hokkiewedstryd uitgeslaan is, het vriende van die familie aan die werk gespring om ’n reuse-projek te reël om die familie met mediese koste te help.
Jayden Delport (9) het Saterdag aan ‘n hokkietoernooi in Bloemfontein deelgeneem.
Sy ma, Carolize, vertel slegs vyf minute nadat sy span van ses, die Stick Mix, begin speel het, het ’n ongeluk gebeur toe Jayden in die mond met ’n hokkiestok getref is.
“Ek het gesien Jayden draai om en bloed stroom by sy mond uit,” vertel Carolize. “Ek het dadelik nader gehardloop en die bloed probeer keer.”
Jayden is daarna na die hospitaal geneem waar hy geopereer is.
Hy het sewe tande in die ongeluk verloor, waarvan vier permanente tande is.
Carolize sê Jayden het nie ’n mondskerm ingehad nie, omdat hy sukkel om daarmee asem te haal.
Pieter, Jayden se pa, sê hy het baie seer gekry en gister weer die tandarts gesien.
Ondanks al die pyn wat die rooikop verduur, glimlag hy dapper. “Hy praat vir óns moed in,” sê Carolize.
Jayden se mond sal nou eers moet herstel en later sal daar rekonstruksie moet plaasvind, maar dit sal eers kan gebeur as hy ouer is. Die koste vir so ’n rekonstruksie kan na beraming tot soveel as R100 000 kos en die siekefonds beskou dit as kosmeties, so hulle betaal nie daarvoor nie.
Margret van Zyl Botha, wat ’n middagstudie en kunsskool bedryf en ’n vriendin van die familie is, het dadelik begin om ’n groot knoop-en-doop-geselligheid op Willem Postma se sportveld te reël.
“Ons beoog om 1 000 t-hemde op Saterdag 14 Oktober te knoop-en-doop in vrolike kleure as geldinsamelingsprojek.”
Deelnemers betaal R100 en bring hul eie effekleurige t-hemde wat hulle kan verf.
Deelnemers sal dan dié hemde aantrek vir nóg ’n geldinsamelingspoging later in Oktober wat deur Dewald Fourie se The Pace Foundation gereël word.
Deelnemers sal van Donderdag af op The Pace Foundation se Facebookblad kan registreer.
Die dag se bedrywighede begin om 09:00.
“Of jy nou al iets geknoop-en-doop het of nie, jy wil deel wees van hierdie massa-poging,” sê Margret. “Saam kan ons ’n reënboog skep en vir Jayden weer ’n pragtige glimlag gee.