’n Jong hoenderboer van Colesberg is die nuwe baas van ’n haan van Struisbaai wat R17 000 op ’n veiling gehaal het.
Die Nasionale Hoenderskou is vanjaar die eerste keer saam met die Nasionale Voëlskou op die Bloemfonteinse skouterrein gehou.
Die beoordeling het op 6 Julie plaasgevind, en van die hoenders is Donderdag (07/07) opgeveil.
Nelmarie Neethling van Struisbaai het die haan geteel en altesaam 41 hoenders ingeskryf.
Die jong haan, wat volgens haar al ’n stewige 4 kg weeg en nog baie gaan groei, het die eerste prys in die junior buff orpington-afdeling gewen. Een van haar hoenders was eerste in dieselfde afdeling vir henne.
PW de Vos, ’n grootwildjagter van Colesberg, het die haan vir sy seun, RJ, gekoop.
Jan-Harm van der Walt, hoofseun van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein, het ook aan die skou deelgeneem met 36 hoenders, waarmee hy op hul plaas, Mooispruit, buite Bloemfontein boer.
Hy wou ook die tamaai haan gehad het, maar is tevrede omdat sy haan ’n plek in die patrys-brahma-afdeling gewen het.
Jan-Harm het in 2019 met twee lavender-hoenders begin boer. In 2020 is hy as die jong orpington-boer van die jaar benoem.
Hy beplan om volgende jaar Veekunde te studeer.
André Smit, organiseerder van die voëlskou, sê hulle het 1 600 inskrywings gehad, waaronder 1 000 kanaries en sowat 180 budgies. Die res was wilde voëls.
Dit is die eerste keer in sewe jaar dat die voëlskou in Bloemfontein gehou is.