Ná ’n stilte van twee jaar wil brugklubs in Bloemfontein nie net aktief deelneem nie, maar ook nuwe lede in dié spel oplei.
John Bridger, voorsitter van die St. Andrew-brugklub, sê hoewel lede die afgelope twee jaar aanlyn gespeel het, word weeklikse byeenkomste weer aangebied sodat lede ná die brugspel kan kuier.
Dié klub skakel saam met die Bloemfontein-brugklub en die U3A-brugklub by die Suid-Afrikaanse Brugfederasie in.
Bridger reken diegene wat belang stel om betrokke te raak moet oor ’n basiese kennis van kaartspel beskik.
“Dit is ’n lekker stokperdjie wat jou brein aan die gang hou,” sê hy.
Belangstellendes kan Louise van Viegen teen Dinsdag (01/03) by 082-578-8659 bel. Sy is van 17:00 tot 19:00 beskikbaar.
Die eerste van vier lesse vind Woensdag (02/03) om 18:00 by die St. Andrew-skool plaas. Vier lesse, leermateriaal ingesluit, kos R100.