Kabeldiewe vasgetrek

Vermeende kabeldiewe het hulle vasgeloop toe lede van die Afri­Forum-buurtwag in Langen­hovenpark en ander veiligheids­personeel hulle op 16 Februarie vasgetrek en in hegtenis laat neem het.


Vermeende kabeldiewe het hulle vasgeloop toe lede van die Afri­Forum-buurtwag in Langen­hovenpark en ander veiligheids­personeel hulle op 16 Februarie vasgetrek en in hegtenis laat neem het.

Dit kom nadat dié buurtwag op CAM Security se versoek via die buurtwag se WhatsApp-noodgroep gereageer het. CAM Security is deel van AfriForum in Bloemfontein se radio- en sekuriteitsnetwerk vir bystand.

Volgens die inligting was ses verdagtes om 20:00 besig om ondergrondse hoogspanningkabels oop te grawe en af te sny. Die alarm het afgegaan.

Anton Botha, die tak se veiligheidsvoorsitter, sê reaksiespanne was binne minute op die toneel om die gebied af te sper.

“Sowat 30 buurtwaglede het op die voorval gereageer, asook CAM Security, VR-Security, Centlec met die Mangaung-beskermingsdienste, Fidelity ADT en polisielede,” sê Botha.

Ekstra hulp is versoek en lede in die omliggende buurte het verdere hulp verleen. Alle lede is strategies geplaas om die verdagtes op die verskeie roetes te kan aankeer. Met ’n gebied van 360 ha in die omgewing van Stuck in the Mud is ’n hommeltuig ook ingespan.

“Dit het die vorige dag gereën en toegang met voertuie was nie moontlik nie.”

Die buurtwag en sekuriteits­dienste het vier verdagtes, met toerusting om kabels uit te grawe in hul besit, aangekeer.

Die vyfde verdagte is heelwat later vasgetrek.

“Die sesde verdagte is twee dae later, toe nog ’n voorval van kabeldiefstal aangemeld is, vasgetrek – toe hy saam met nog ’n man kabels probeer steel het.”

Die verdagtes is aan die polisie oorgegee en ’n saak van die beskadiging aan infrastruktuur is aanhangig gemaak. Botha sê die vermeende kabeldiewe is in aanhouding totdat hul hofsaak voorkom.

Kabeldiefstal lei tot grootskaalse kragonderbrekings en ontwrigting in verskeie woonbuurte.

AfriForum se Langenhovenpark-buurtwag het reeds hoërisiko-gebiede geïdentifiseer wat gereeld deur die patrolleerders en reaksiespan moniteer word.

“AfriForum se buurtwagte in Bloemfontein reageer gereeld op verskeie probleme in hul omgewing,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.

“Ons uitstekende toerusting, soos die hommeltuig en radionetwerk, stel ons in staat om misdaad doeltreffend te help bekamp.

“Ons het ’n groot radionetwerk en goeie samewerkingsooreenkomste tussen die nege AfriForum-buurtwagte en die verskeie sekuriteitsmaatskappye, die polisie en nood- mediese dienste.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.