Kragdrade wat uit ’n lamppaal in Bayswater gesteel is, hang los.Foto: Verskaf


Centlec het net verlede jaar R56 miljoen se verliese gely weens kabeldiefstal en vandalisme.

Dit is veral in die suide van Bloemfontein, in woonbuurte soos Bayswater, waar diefstal van kragkabels uit straatligte nou ’n reuse-probleem is. Kabels is weer Dinsdagnag (22/08) gesteel, wat tot kragonderbrekings gelei het.

Die uitvoerende hoof van Centlec, Malefane Sekoboto, het op ’n vergadering Dinsdag gemeenskapsorganisasies bedank vir hul betrokkenheid om misdaad wat die kragverspreider teister, te help bekamp. Hy het ook gevra dat hierdie organisasies Centlec help om kriminele bedrywighede aan te meld en misdadigers te laat aankeer.

Sekoboto sê in veral die suide en die noorde van Bloemfontein is diefstal nou byna ’n daaglikse gebeurtenis.

“Die kragkabels word dikwels helder oordag uitgetrek, maar ons ondervind ook baie probleme tydens beurtkrag. Die misdadigers ken ook die beurtkragskedules en slaan gereeld toe wanneer dit donker is.”

Sekoboto sê daar is nou ongeveer 150 sake wat teen vermeende misdadigers ondersoek word, en tussen 80 en 90 vermeende misdadigers is al in hegtenis geneem.

Hy sê die nasionale vervolgingsgesag het nou streng reëls vir hierdie soort misdade en borgtog word nie in sulke gevalle toegestaan nie.

Pieter du Toit van VR Security sê veiligheidsondernemings ontvang heelwat oproepe oor kabeldiefstal.

“Ons ondervind nogal baie probleme hiermee in Estoire.”

Dele van die stad wat die afgelope tyd erg deurloop, is Noordhoek en Bayswater.

Jacques Human van Pro Force Security sê dit lyk asof dit mense is wat op die stortingsterrein woon wat hierby betrokke is.

“Die kabels wat gesteel word, se plastiek word gebrand en dit veroorsaak weer brande en ander probleme by die noordelike stortingsterrein,” sê hy.

Van die gemeenskapslede sê daar is talle kragbokse wat nie gesluit is nie en ’n maklike teiken vir boosdoeners word.

Sekoboto sê dit is nie net straatlampkabels en kragkabels wat gesteel word nie, maar ook poeier uit vonkproppe.

Christo Groenewald, distriks­koördineerder van AfriForum in Bloemfontein, sê landelike dele word veral geteister, en daar is ook probleme met vandalisme en diefstal in veral die Genl. de Wet-woonbuurt en Uitsig.

“Talle veiligheidsmaatskappye help om oortreders wat kragkabels probeer steel vas te trek. Hulle en die polisie sukkel soms om vas te stel aan wie die infrastruktuur wat beskadig is, behoort,” sê hy.

“Dit is belangrik dat daar beter kommunikasie met Centlec se bestuur sal wees om misdaad vinniger te kan hanteer.”

You need to be Logged In to leave a comment.