Prof. Francois Deacon en Andri Grobbelaar by die kameelperde Donderdag (20/04).Foto: Lientjie Mentz


Die twee kameelperde wat op 11 April ’n nuwe tuiste in die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill gevind het, is ’n groot hupstoot vir die bewaring van kameelperde in die Vrystaat.

Prof. Francois Deacon van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement veekunde, meen die verskuiwing van die kameel­perde het ’n groter invloed as bloot die voortbestaan van die kameelperde op Naval Hill.

“Die hele proses dra by tot bewaring en navorsing op kameelperde wat van internasionale belang kan wees,” het hy gesê.

Twee vroulike kameelperde is op 11 April vanaf die Weltevreden-natuurreservaat, sowat 30 km noord van Bloemfontein, verskuif.

Die vorige dag is twee ander kameelperde van die Amanzi-natuurreservaat by Brandfort na Weltevreden geskuif.

Die aankoms van die twee kameelperde in Bloemfontein is ’n droom wat waar word vir die Vriende van Franklin onder voorsitterskap van Andri Grobbelaar, wat jare lank daarvoor gewerk het.

Grobbelaar het sowat drie jaar gelede begin soek na diere om die genepoel van die kameelperde hier te vergroot.

Voor hul aankoms was daar net twee manlike diere – Bulperd en jong Paseka, wat op Naval Hill gebore is. Paseka se ma, Masabatha, was oud toe sy verlede jaar in ’n erosiesloot beland het en nie weer kon uitkom nie.

Die vier kameelperde bymekaar is van links Paseka, Kariba, Zuri en Bulperd. Foto: Andri Grobbelaar

Die Rooipoort-natuurreservaat buite Kimberley het twee kameelperdkoeie aan die Vriende van Franklin en die Mangaung-metro geskenk. Dié twee kameelperde gaan nou na Amanzi.

Die geld vir die vang en verskuiwing van die diere, asook medisyne wat hiervoor nodig was, is deur die Vriende van Franklin ingesamel.

Volgens Deacon, ’n habitat-ekoloog wat fokus op projekte om die ekologiese en biologiese faktore van kameelperde in hul natuurlike omgewing te verstaan, het die twee groepe kameelperde op Naval Hill mekaar die eerste vyf dae oor ’n afstand van sowat 200 m dopgehou, voordat hulle saam begin wei het.

Weltevreden, waarvandaan Shawn Saayman en sy personeel van Buffalo Ranch die twee kameelperde geskuif het, is sowat 1 000 ha groot, teenoor die 250 ha van die Franklin-reservaat.

“Die voordeel daarvan om hulle van Weltevreden hierheen te verskuif, is dat die plantegroei dieselfde is en hulle dus maklik kon aanpas,” het hy Donderdag (20/04) gesê waar die vier kameelperde saam gewei het.

In die afgelope bietjie meer as ’n week en ’n half word die vier kameelperde, en veral die drie jong kameelperde, gereeld saam gesien.

Drie van die vier kameelperde Saterdag (22/04) op Naval Hill. Die drie jonger kameel­perde loop heel dikwels saam, terwyl Bulperd gereeld naby hulle wei.Foto: Karen Kemp

Drie van die vier kameelperde Saterdag (22/04) op Naval Hill. Die drie jonger kameel­perde loop heel dikwels saam, terwyl Bulperd gereeld naby hulle wei.Foto: Karen Kemp

“Die verskuiwing het op ’n goeie tyd plaasgevind, voordat die bladwisselende bome begin het om blare af te gooi.”

Deacon sê die stigting van die Vriende van Franklin het goeie samewerking tussen die universiteit, die metro en ander instansies moontlik gemaak.

Hy meen die verwydering van ’n getal grasvreters, wat in Maart gedoen is, sal ook ’n positiewe invloed op die gras-drakrag van die reservaat hê.

Nog ’n positiewe stap wat saam met die verskuiwing van die kameelperde geval het, is die aanbring van monitors aan vier kameelperde in die Amanzi-reservaat.

Deacon het gesê die monitering van die kameelperde hou verband met onderhandelinge van vyf jaar lank en is moontlik gemaak deur die Weense Universiteit se akoestiese sentrum, wat saam met die UV en studente van oor die wêreld heen navorsing oor kameelperdkommunkasie en -klanke doen.

Grobbelaar sê die Vriende van Franklin is dankbaar vir almal wat gehelp het om die kameelperde na Naval Hill te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.