Een van die vier kamers van Bloemfontein Hospice by die Siesta-aftreeoord is na die Witherow-trust genoem wat dié kamer ’n jaar lank borg.
Hanneke Lubbe sê die Witherow-trust is sedert die begin ’n getroue ondersteuner.
Die kamer is op ’n spesiale geselligheid Vrydag (26/08) herdoop.
“Die borgskap ondersteun Hospice se doel om dienste en versorging vir almal beskikbaar te stel – ook vir diegene wat dit nie kan bekostig nie,” sê Lubbe.
Stephanie Pretorius, wat al 12 jaar by die trust betrokke is, het op die geleentheid meer vertel oor die visie van Sidney Basel Witherow uit wie se boedel dié trust in 1952 ontstaan het.
“Die trust vier vanjaar sy 70ste verjaardag. Witherow was ’n sakeman van Bloemfontein wat landbou-werktuie verkoop het. Hy word deur dr. Sheila Arondstam as ’n ernstige en streng man beskryf.”
Pretorius sê die doel met die trust is die maatskaplike en kulturele ontwikkeling van gemeenskappe in Bloemfontein.
“ ’n Mens kan sien dat pasiënte by Bloemfontein Hospice met waardigheid, liefde en deernis hanteer word. Dit is wat dit vir my so lekker maak om hier te kom.”
Pretorius sê daar is elke jaar meer mense wat behoefte aan ondersteuning het.
“Dit is vir ons ’n groot voorreg dat die kamer na die Witherow-trust genoem is en dat Witherow se nalatenskap só kan voortleef,” sê Pretorius.