Die eerste keer in drie jaar kon daar weer pret wees op die Kougomkamp vir voorgraadse studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Die kamp word al 31 jaar gehou en is vanjaar soos gebruiklik deur die Kopanong-kerk aangebied.
Studente het van Woensdag 18 Januarie tot Saterdag (21/01) op die Mooigenoeg-kampterrein buite Bloemfontein gekamp.
Marinel Mostert, onderleier van die kamp, sê baie van die kampleiers het weens Covid-19 nog nie ’n Kougomkamp bygewoon nie.
“Dit is net ’n klompie mal studente wat ’n kamp sal reël wat hulle nog nie self gedoen het nie,” het sy Donderdag gesê.
Anders as vorige jare was daar ook geleentheid vir studente in ander jaargroepe as die eerste jaar om die kamp by te woon. Eindelik het 71 studente, leiers ingesluit, vanjaar se kamp bygewoon.
Die studente het benewens groepsessies en geestelike aktiwiteite heelwat pret gehad met sportspeletjies, spanbousessies en watersport.