Die eerste vriendskapsbande tussen ’n groep studente is die naweek gesmee op die jaarlikse Kougomkamp, wat van Vrydag tot Maandag op die Mooigenoeg-kampterrein aangebied is.
Luné Pretorius, leier van dié kamp vir voorgraadse studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê vanjaar het 60 studente en 30 groepleiers saamgetrek.
“Studente wat eers eenmaal op Kougom gekamp het, kom graag terug,” sê Pretorius.
“Vanjaar is daar 30 groepleiers en lede van die kosspan wat voorheen hier gekamp het.”
Sy sê dit is waarlik ’n plek waar hegte vriendskapsbande gesmee word.
“Ons tema van vanjaar was: ‘Die tyd is nou.’ Ons fokus op die storie van Lasarus – Christene moet opstaan en hande vat om mekaar te ondersteun.”
Pretorius sê die kamp is nie net vir eerstejaarstudente nie, maar vir alle voorgraadse studente wat wil vriende maak in ’n Christelike omgewing.
Justina Sibanda, ’n vierdejaarstudent al die pad van Oudtshoorn, sê sy het verlede jaar Oktober by Kovsiekerk ingeskakel en het op die Kougomkamp gegaan om nuwe mense te ontmoet.
Ook Irmarie Malan, wat vanjaar gaan begin om onderwys aan Kovsies te studeer, sê sy woon die kamp by om nuwe mense te ontmoet.
Pretorius sê Kougomkamp is in ’n groeifase.
“Ons droom is dat die kamp sal bly groei.”
Marlo Strydom, bemarkingshoof van die Kougom-komitee, sê hulle wil met dié kamp ’n Christelike studentegemeenskap skep waarby studente tot die ouderdom van 25 kan aansluit om geestelik te groei en bemagtig te word as toekomsleiers.