Dr. Lena-Marie Botha (30), ’n algemene praktisyn en kranige gewigopteller van Bloemfontein, het ten spyte van ’n beseerde hand gehelp om die redakteur van BloemNuus sowat 100 m ver op ’n draagbaar in die Drakensberg te dra.
Botha, ’n voormalige Suid-Afrikaanse kampioen in gewigoptel, sê sy glo nie sy sou dit kon doen as dit nie vir die beoefening van dié sportsoort was nie.
Sy was verlede Dinsdag een van ses mense wat Lientjie Mentz (49) tot by die lugambulans help dra het.
Botha moes heelpad met haar regterhand help dra, aangesien sy nie na haar linkerhand, wat in ’n stut is, kon verwissel nie.
Mentz het sowat 10 m ver aan die onderkant van Gray se Pas in die sentrale Drakensberg geval, haar kuit- en skeenbeen gebreek en sagte weefsel in haar regtervoet beskadig.
Botha, ’n provinsiale kampioen in gewigoptel, het vroeg in April in die Vrystaatse kampioenskapstoernooi drie ligamente in haar linkerhand gedeeltelik geskeur. Sy was in 2022 ’n Suid-Afrikaanse kampioen en het verlede jaar ’n silwermedalje in die nasionale kampioenskapskompetisie verwerf. Sy sal aan vanjaar se nasionale kampioenskapskompetisie kan deelneem, mits haar hand betyds herstel.
Dié dokter was lid van ’n stapgeselskap wat ’n ent agter Mentz se stapgroep was toe die voorval gebeur het. Sy het gesien die groep het ophou beweeg en besef Mentz is beseer toe sy naderkom.
Botha het dadelik gevra of Mentz haar tone kan voel om te bepaal of daar bloedtoevoer na haar voet is, anders kon sy haar voet verloor, sê sy.
“Ek moes seker maak die voet is in ’n reguit lyn sodat die bloed kon vloei. Ek sê toe nogal vir my kêrel, as die voet nie in lyn is nie, gaan hy moet help om dit in lyn te druk, want ek sal dit nie met een hand kan doen nie.”
Gelukkig vir Grant Ackerman was dít nie nodig nie.
Mentz sê dit was gerusstellend om Botha by hulle te hê terwyl hulle op die paramedikus gewag het.
“My grootste bekommernis was dat my voet af is, en toe sê sy vir my die belyning is reg,” sê Mentz.
Mentz se vriendin en stapmaat Petro Engelbrecht, ’n Bloemfonteinse pianis, het haar onderbeen en voet met verbande toegedraai voordat Botha op hulle afgekom het.
Botha sê Engelbrecht het goeie werk hiermee gedoen. Volgens die gewigopteller het dit hulle sowat anderhalf uur geneem om Mentz 100 m ver gly-gly teen ’n helling af te dra tot by die lugambulans.
Botha sê die paramedikus, Stephen Richert, het in ’n stadium “slang” geskree – hulle het bo-oor ’n pofadder getrap terwyl hulle besig was om Mentz te dra. Sy sê dit is ’n genade dat niemand gepik is nie.
Botha het ook na sy beserings gekyk. In Botha se groep moes die Bloemfonteiner Liezel Janse van Vuuren die vorige dag met ’n lugambulans van bo-op Gray se Pas gehaal word.
Janse van Vuuren het haar knie met die opklimslag beseer en daar is gevrees dat sy nie sou kon afklim nie.
Joshua, ’n gr. 10-leerling aan Grey Kollege in Bloemfontein, is self ’n provinsiale kampioen in gewigoptel.
Volgens Botha het Mentz ’n beskermengel gehad.
“As sy ’n meter verder geval het, weet ek nie in watter toestand sy sou gewees het nie.”
Mentz bly by haar ouers, Jan en Helen Mentz, in Bloemfontein totdat sy gereed is om na haar eie woonplek in die stad terug te keer.
Sy mag vir nog minstens vyf weke nie op haar regtervoet trap nie.
“Hulle gaan uit hul pad om my te help. Hulle is kosbaar,” sê sy oor haar ouers.