Kampioen het nou kort duskant ‘n dosyn goue SA medaljes

Bloemfontein se blinde rolbalkampioen, Michiel Kruger (80), het goud verwerf by die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir gestremdes. Hy het in enkelspel gewen en saam met Tracy Smith in die parespel. Kruger het elf keer goud gewen en was onlangs internasionale kampioen. Cedric Summergill was sy gids by die kampioenskap.


Bloemfontein se blinde rolbalkampioen het weer die voortou geneem toe hy goud verwerf het in die Suid-Afrikaanse rolbalkampioenskap vir gesiggestremdes en fisiek gestremde spelers.

Michiel Kruger (80), wat lid van die Orangia-rolbalklub is en al 11 keer goud in ‘n

Suid-Afrikaanse kampioenskap behaal het, het van 5 tot 12 April aan die byeenkoms in Bedfordview, Johannesburg deelgeneem.

Op die byeenkoms is van links Cedric Summergill, Michiel Kruger, en Tracy en Tommy Smith. Foto: Verskaf

Hy het in die enkelspel gewen en in die parespel saam met sy gereelde pare-spanmaat Tracy Smith goud behaal.

Hy was verlede jaar weer die topspeler in sy afdeling (B1) in die wêreld nadat hy in die internasionale rolbaltoernooi vir mense met gestremdhede, wat in Mei gehou is, in die enkelspel en die dubbelspel geseëvier het – in laasgenoemde geval ook met Smith as spelmaat.

Dit was toe die derde keer dat Kruger as die internasionale enkelspelkampioen gekroon is.

Hy het voorheen ook goud gekry in die enkelspel in 2011 en in 2015. In die dubbelspel het hy ook goud gekry in 2015 en 2017 – asook in 2023 in Australië in die internasionale rolbaltoernooi vir mense met gesiggestremdheid.

Cedric Summergill was sy gids op vanjaar se Suid-Afrikaanse kampioenskapbyeenkoms.

You need to be Logged In to leave a comment.