’n Leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje (OMS) is die derde keer agtereenvolgens as driesprongkampioen gekroon.
Johani van Tonder het dié eer op die nasionale atletiekbyeenkoms vir hoërskoolleerlinge wat van 15 tot 18 Maart in Germiston aangebied is, behaal.
Johani se afstand van 12,35 m was goed genoeg om ’n goue medalje in die afdeling vir meisies o.19 te wen.
Op die provinsiale byeenkoms, wat op 11 en 12 Maart aangebied is, het Johani die Vrystaat-rekord in verspring tot ’n afstand van 5,70 m verbeter. Dié houer van drie Vrystaat-rekords is al vyf keer as provinsiale kampioen in driesprong en verspring gekroon.
Nog OMS-atlete het goed gevaar in die nasionale byeenkoms. Charné Wansbury (o.17) was derde in die 200 m, en het as lid van drie aflosspanne die podium gehaal. Germarie Spershott (o.17) was derde in die 400 m-hekkies en het as lid van aflosspanne twee medaljes ontvang. Roline Louw, Nécke Verster en Rumé Burger het vir die Vrystaat-aflosspanne medaljes behaal.