Al ly sy aan vlak 4-kanker en verduur sy baie ongemak, het dit nie ’n jong vrou gekeer om elke inwoner van die Siesta-aftreeoord op haar 42ste verjaardag met ’n kolwyntjie te bederf nie.
Marelise Badenhorst en haar man, Paul, saam met hul twee hondjies, Pippie en Peanut, bly die afgelope maand in die Bloemfontein-hospies.
Hanneke Lubbe, bestuurder van Hospice Bloemfontein, sê hulle het ’n spesiale kamer vir die egpaar met hul hondjies ingerig.
“Hulle moet hier tuis wees soos in hul eie huis.”
Die paartjie was nuwe intrekkers in die Noord-Kaapse dorp Nieuwoudtville kort voordat Marelise begin siek word het. Sy het vir ’n lang tyd baie gebloei en dit aanvanklik toegeskryf aan ’n maandstonde-siklus wat ’n bietjie buite beheer is. Toe sy eindelik in Oktober 2021 na ’n kliniek gaan, is sy dadelik na Calvinia gestuur om ’n bloedoortapping te kry. Sy het egter slegs een eenheid bloed ontvang, en is daarna inderhaas per ambulans na Upington se hospitaal gebring – waar sy tien uur moes omsit voordat sy eindelik laataand opgeneem is.
Sy het ’n histerektomie ondergaan en ná drie weke in die hospitaal is sy huis toe gestuur met ’n belofte dat die spesialis hulle sou laat weet as daar probleme is.
Ná drie maande het die pyn wat sy na afloop van die histerektomie begin ervaar het, al hoe erger geword. Toe Paul ná vier maande se gewag die dokter in die hande kry, moes hulle uitvind die verantwoordelike persoon het vergeet om hulle te laat weet en Marelise moes dringend hospitaal toe vir ’n skandering.
Vlak 3-kanker is by haar gediagnoseer.
Die spesialis het gesê hy kan nie weer opereer nie en behandeling sou net haar simptome verlig en nie die kanker wegneem nie.
Marelise het oral hulp gesoek en selfs na Kaapstad gereis om nog ’n skandering te laat doen. Teen November is vlak 4-kanker by haar gediagnoseer.
“Die pyn was teen daardie tyd ondraaglik,” vertel Marelise.
“Die pynmedikasie wat ek ontvang het, het nie gehelp nie. Ek het besef dat ek plek in ’n hospice moes kry, maar kon nêrens ’n plek kry wat my, my man én twee hondjies sou neem en wat nie ’n tydraamwerk gee vir ons verblyf nie. Ek kon nêrens in die Wes-Kaap of Noord-Kaap verblyf kry nie.”
Dit was eers toe sy kontak maak met Hanneke-hulle by die Bloemfontein-hospies dat Marelise hoop gekry het.
Suster Elsabe Oberholzer het haar daagliks begin bel en haar gehelp om die regte pynmedikasie te kry.
Begin Februarie het hulle hul huis verlaat en hul intrek in die hospies geneem.
“Paul gaan alleen huis toe. Ek het vir hom ’n brief daar gelos en ook voice messages gemaak vir elke dag van die eerste maand.”
Sy is reg om na haar hemelse huis te gaan.
“Sien jy hierdie prentjie,” vra sy oor ’n skildery wat ’n kunstenaar van Stilbaai vir haar gemaak het.
“Dit gaan saam met Paul huis toe om hom te herinner aan my hemelse woning.”
Vir haar verjaardag op 28 Februarie het sy 120 kolwyntjies bestel en in haar rolstoel vir elke inwoner van die sentrum, asook die inwoners van die hospies, gaan uitdeel.
“Die glimlag op almal se gesig was so spesiaal,” sê sy. “Ek het ook besef dat ek net dankbaar kan wees. Al kry ek swaar en het ek soms baie slegte dae, is daar ander mense met wie dit slegter gaan.”
Hanneke sê Marelise en Paul is die hooflede van die span wat haar pynbeheer bestuur.
Marelise sê sy het hier by die hospies geleer wat dit beteken om te bly leef.
“Ek het die geleentheid gekry om elke oomblik saam met my geliefdes te geniet. Hier het ek besef dat ek kan leef tot die einde toe.”