Dit was vanjaar, 19 jaar ná haar eerste mastektomie, ‘n skok om te hoor sy het ‘n tweede keer borskanker.
Nie net het Mariana Nel (75) al die hele ervaring deurgemaak nie, sy is ‘n opgeleide radiografis wat jare lank in die x-straal-afdeling van die Universitas- Akademiese Hospitaal en Nasionaal-hospitaal gewerk het.
Kort nadat sy in 2002 in radiografie begin werk het, is in 2006 ‘n knop in haar bors waargeneem, met ‘n mammogram.
“Al wat ek gevoel het, was ‘n krieweling in my bors,” vertel sy oor daardie eerste keer.
Die mammogram kon bepaal die knop was 40mm van die borskaswand.
“Ek wou die ding nie hier binne my hê nie. Ek wou lewe.”
Sy het die mastektomie van haar regterbors ondergaan, met 16 kliere wat uitgesny is. Daarop het drie maande van chemoterapie gevolg.
“Dit was baie sleg. Toe ek daarmee klaar was, moes ek hoor dat ek nog ses weke bestraling ook moes kry. Dit was seer − my vel was later soos rou vleis.”

Ná die behandeling het sy ‘n borsbeeldingskursus gevolg om haar verder te kwalifiseer.
“Ek het as sonograaf by Universitas gewerk. Dit was wonderlike werk. Ek het gevoel: Hierdie is my plek. Dit was lekker om met pasiënte te werk, en ek het geweet die Here het my daar geplaas om ander te help.”
Die afgelope 19 jaar het Mariana ‘n borsprostese in ‘n spesiaal gevormde bra gedra. Toe kom die nuus met haar jaarlikse mammogram, in Februarie.
“Ek was by dr. Sanet Botha en het so oor haar skouer na die x-straal geloer. Ek kon duidelik die klein tumors sien wat in formasie in my bors was.”
Sy kon nie glo dit gebeur weer nie.
By die chirurg gekom, het sy vir hom gesê: “Ek vat opsie nommer twee.”
Hy was verbaas.
“Ek het dan nog nie eens vir jou gesê wat die opsies is nie,” was sy reaksie.
Sy sê die keuse om ‘n mastektomie te ondergaan, was makliker as die eerste keer.
“Dis my keuse. Ek was in daardie stadium 74 jaar oud. Ek was reg om sonder ‘n linkerbors ook te leef. Ek mis dit glad nie om ‘n bra te dra nie.”
Mariana is dankbaar dat dit hierdie keer nie nodig was vir chemoterapie en bestraling nie.
“Saam met die bors het hulle hierdie keer net drie kliere verwyder.”
Sy is passievol daaroor dat vroue bewus moet wees van hul liggaam.
“Moet nooit dink dit kan nie met jou gebeur nie. Dit is nie iets wat jy kry nie. Dit is selletjies wat abnormaal begin groei.”
Haar raad is om gereeld ‘n mammogram te ondergaan.
“Ek het nie een keer die knop gevoel nie. Dit is slegs met ‘n mammogram opgespoor. Kry gereeld ‘n mammogram, maar gaan ook dadelik dokter toe as jy iets abnormaal aan jou bors voel. Moet nooit swig onder ontkenning nie. Vroeë opsporing is die belangrikste stap om kanker te beveg,” sê dié dapper vegter teen kanker.



You must be logged in to post a comment.