Kantoorbestuurder van departement van arbeid in Bloemfontein vas in nasionale klopjag

Die polisie het Donderdag die 42-jarige kantoorbestuurder van die Departement van Arbeid in Bloemofntein in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie. Dit is deel van ‘n nasionale operasie. FOTO: Lientjie Mentz

Die 42-jarige kantoorbestuurder van die Bloemfontein-tak van die Departement van Arbeid was Donderdag die eerste van ‘n hele paar verdagtes wat in hegenis geneem is in verband met korrupsie en bedrog.

Brig. Motantsi Makhele sê die in hegtenisname van die man volg op ‘n vyf maande lange ondersoek van bewerings van bedrog en korrupsie binne die departement van arbeid.

Lede van die provinsiale polisie se eenheid van georganiseerde misdaad, misdaadintelligensie, die takstiese reaksiespan, openbare orde en die berede eenheid het Donderdag om 09:30 op die kantoor op die hoek van Wesburger en Charlotte Maxekestraat toegeslaan.

Die polisie het Donderdagoggend toegeslaan op die kantoor van die departement van arbeid waar die 42-jarige kantoorbestuurder in hegtenis geneem is.

Die verdagte was aanvanklik nie in die kantoor nie, maar ingeligtes het gou verklap waar hy is en hy is na die kantore geneem voordat die polisie hom in ‘n ongemerkte voertuig van die toneel af na die Parkweg-polisiekantoor geneem het.

Makhele verduidelik die inhegtenisnames volg op ‘n ondersoek wat gedoen is oor ‘n gesofistikeerde bedrogspul wat vals eise van die Werkloosheidsversekeringsfonds behels.

Daar word beweer dat die opperbrein agter die operasie niksvermoedende individue gewerf het en hul persoonlike inliging gebruik het om vals eise by die departement van arbeid te registeer. Die geld wat op hierdie bedrieglike wyse bekom is, is tussen die werwer en in sommige gevalle die persoon wie se identiteit gebruik is, gedeel.

Brig. Motantsi Makhele

Makhele sê die departement van arbeid het op hierdie manier meer as R1,5 miljoen verloor.

Die eerste in hegtenisname was die 42-jarige kantoorbestuurder. Daarna het die polisie talle ander verdagtes in die Vrystaat en Gauteng in hegtenis geneem. Die verdagtes sal na verwagting Maandag 8 Julie in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

“Ons verwag om sowat 20 verdagtes in dié operasie in hegtenis te neem,” het Makhele kort na die operasie wat Donderdag begin het, gesê.

Luitenant-generaal Baile Motswenyane, provinsiale kommisaries van die polisie in die Vrystaat. het die span geloof vir die toewyding en goeie uitvoering van die operasie.

“Dit is hoog tyd dat diegene wat die regeringstelsels uitbuit vir persoonlike gewin verantwoordelik gehou word vir hulle aksies. Ek wens die speurders geluk met hul toewyding tot die regsproses. Die operasie dien as ‘n waarskuwing dat misdaad nie betaal nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.