Die bestuurder van ’n Volvo het Dinsdag (14/02) net voor 13:00 ongedeerd uit sy motor geklim ná ’n ongeluk op die hoek van Arboretumlaan en Brillstraat in Westdene.
Die Volvo het gerol en op sy dak in Arboretumweg te lande gekom nadat die bestuurder van ‘n Nissan-bakkie na bewering oor ‘n rooi lig gery en die Volvo van die kant af getref het.
Die bestuurder van die Volvo, Lukas de Lange van Theunissen, sê hy was Dinsdag in die stad en het in Albrechtstraat afgery toe die bakkie sy motor by die verkeerslig teen die kant tref. Die Volvo het gerol.
“Deur die genade het ek sonder ‘n skrapie uit die motor gekom. Die bestuurder van die bakkie het verdwyn en na bewering gaan lugtyd koop, maar ons het hom nie weer gesien nie.”
De Lange sê dit is ongelooflik hoeveel mense hul hulp kom aanbied het om te getuig oor wat gebeur het en om te hoor waarmee hulle kon help.
“Volpunte vir Bloemfonteiners. Die ambulans was baie vinnig op die toneel en die personeel was so gaaf en behulpsaam.”
Hy sê hy is baie in sy skik met die veiligheid wat sy motor bied.
“Terwyl ek nog onderstebo in die Volvo gehang het, het ek van Volvo se SOS-diens ‘n boodskap ontvang dat die motor in ‘n ongeluk was, volledig met ‘n navraag oor of hulle hulp kon ontbied. Minute later het iemand van Volvo gebel en gesê sy hoor ek was in ‘n ongeluk, en sy het aangebied om te help. Daar was dadelik ‘n nuwe Vovo beskikbaar waarmee ek kan ry totdat alles uitgesorteer is.”
Die pad was vir meer as ’n uur gesluit terwyl betrokkenes by AfriForum op die toneel was om te help om die verkeer te reguleer.
Die polisie was ook kort ná die ongeluk op die toneel om besonderhede oor die ongeluk af te neem.
) In ’n ernstige ongeluk op die Maseru-grenspos buite Ladybrand is vier mense Dinsdag dood en 23 beseer toe die bestuurder van ’n vragmotor blykbaar beheer oor die voertuig verloor en dit teen ’n stilstaande minibus-taxi gebots het. Die ongeluk het gebeur waar stalletjies was en voetgangers deur die grenspos beweeg.
Noodpersoneel en die polisie was op die ongeluk. Die bestuurder van die vragmotor is ernstig beseer. Al die pasiënte is na die hospitaal in Ladybrand gebring.
Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.