Karaktervolle stad hou sy mense aan die raai

Bloemfontein is ’n heerlik buierige stad. Wispelturig, sou ’n mens selfs kon sê. Dit bedoel ek nou nie noodwendig in die omgesukkelde, beduiwelde sin van die woord nie. Dit het eerder te make met ’n ruimheid van gees wat dié geliefde grootstad-soos-’


Bloemfontein is ’n heerlik buierige stad. Wispelturig, sou ’n mens selfs kon sê. Dit bedoel ek nou nie noodwendig in die omgesukkelde, beduiwelde sin van die woord nie. Dit het eerder te make met ’n ruimheid van gees wat dié geliefde grootstad-soos-’n-kleindorpie kenmerk.

Net soos ’n somernamiddag hier wat skynbaar sonnig sou wees in ’n oogwink ’n donderstorm kan bring, kan die atmosfeer wat ’n mens in die stad aanvoel, verander. ’n Gejaagde Maandagoggend kan só aangenaam afwen dat die aandete buite onder die afdak weer na naweek voel. Ook kan ’n luilekker Sondagmiddag heel onvoorspelbaar ’n soort ongedurigheid laat broei.

Wat die geval ook al is, dié veranderlikheid is iets wat opgelet en waardeer behoort te word. In die heel grootste stede waar niks ooit tot stilstand kom nie en iemand skynbaar altyd aan die ronddraf is, raak dinge heelwat meer eendimensioneel.

Maar hier, in Bloemfontein, is daar braaivleis-vroegaande. Dit is daardie bekende tyd van intense afguns omdat ’n buurman so bevoorreg is om ’n vuurtjie aan te steek, dat jy nie kan help om self so te maak nie, al is dit met ’n halwe sak skrams natgereënde brikette en een rol boerewors.

Daar is amperse plaasstil nagte, waarop jy jouself kan oortuig die enkele vragmotors wat sporadies met die N1 langs brom, is net jou verbeelding. Jy kan jou indink hoe dit sou wees om die aarde te voel draai, en jy kry dit dalk selfs reg om werklik te glo dat daardie onpeilbare aantal satelliete in die maanlose naglug wemel – wanneer jy die verskuiwende ligstippels die een ná die ander opmerk.

Daar is skaam-jy-jou-nie-Saterdae, wanneer die fikses die strate invaar met draftekkies, per fiets en met dapper en stapper, hond en kind en babawaentjie in gelid. Dan hang ’n geweldige energie in die lug terwyl jy slaperig aan jou koffie teug en die spulletjie deur die venster gade slaan.

Daar is armageddon-Donderdae, waarop ek al bevrees was dat die buiteruimtelike weermag van zoemende grassnyer-goggas ons wêreld gaan inneem, elke keer dat tuindienste op die woonbuurte toesak. Jy hoor hulle aanvanklik iewers op ’n afstand; presies waar is jy nie seker nie. So kom hulle nader en nader en eindelik tot reg voor jou deur, sodat dit voel asof dit nie heeltemal onwaarskynlik sou wees dat jy ’n wetenskapfiksietoneel sou aantref as jy die deur oopmaak nie.

Daar is jaagduiwel-nanagte, wanneer dit voel asof die ganse stad se waaghalse besluit het om in hul motor te spring en die stil strate te laat sidder, terwyl die res van ons onrustig en slaaploos bly rondrol.

Aan die begin van die nuwe jaar, op die eerste dag dat die winkels weer oop was, het almal rondgery asof hulle skielik van ’n ding onthou het waarvan hulle liewer oor die Kerstyd vergeet het.

Vandeesweek gee die bedrywigheid by skole wat weer aan die gang kom, die toon aan. Dit het beurtelings alles van terug-skool-toe-winkelwaansin tot skoolkoshuis-tuiskoms-verkeer verseker. Die stad sal soggens vroeg weer brul van die motors vol kinders in uniforms wat by die ruit uit staar en lyk asof hulle aan niks dink nie, terwyl hulle eintlik die dag se Afrikaans-mondeling of die agtmaaltafel oor en oor in hul kop opsê in die hoop dat dit sal vassteek.

Dan sal elkeen van dié oggende op sy eie manier sy loop kry.

Die stad sal wel sy bui laat voel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.