Karatekas skerp vaardighede op

’n Seminaar in die Goju Kai-karatestyl is op Saterdag 28 Mei by die NG kerk Fauna aangebied.


’n Seminaar in die Goju Kai-karatestyl is op Saterdag 28 Mei by die NG kerk Fauna aangebied.

Op die seminaar het 73 karateka van oor die Vrystaat heen opleiding en oefening ontvang sodat ’n voorlopige span saamgestel kan word om aan die volgende wêreldkampioenskappe in Japan deel te neem.

Tydens die geleentheid het shihan Danie Rossouw sy sesde dan ontvang.

Shihan Danie en shihan Louis Kritzinger (5de dan), wat die Vrystaatse provinsiale en tegniese hoof van die styl is, het besoekers van die Kaap bygestaan met die opleiding.

Hulle was shihan Craig Kansley (7de dan), vise-president en toernooidirekteur van die styl in Suid-Afrika, Hansi Peter Brandon (8ste dan), president van die styl in Afrika, en shihan Frank Brandon (7de dan), vise-president van die styl en ook direkteur: geleenthede.

Die Goju Kai-styl is een van die groter, ouer en meer tradisionele karatestyle in die wêreld en word in meer as 72 lande beoefen.

Die wêreldkampioenskap word elke vierde jaar aangebied, maar moes weens die pandemie uitgestel word.

Sowat 1 000 karatekas van oor die wêreld heen neem aan die wêreldkampioenskap deel. Suid-Afrika het dit in 2009 aangebied.

Danie en Louis het reeds die renshi-eerbewys ontvang. Nadat die karateka vir sy vyfde dan gekwalifiseer het, kan die rang van
shihan toegeken word, met ‘n skriftelike verhandeling wat voltooi moet word voordat die die renshi-eerbewys toegeken kan word. 
Die aanspreekvorm bly shihan.

Shihan Louis het as ’n jong seun by Shihan Danie begin oefen en het reeds op 14 jaar oud sy Protea-kleure verwerf met sy deelname aan die jeug-wêreldkampioenskappe in Boedapest. Hy het in sy karate-loopbaan talle kere provinsiale kleure verwerf en ook aan wêreldkampioenskappe deelgeneem en gepresteer. Hy was ook in Japan vir intensiewe opleiding.

Shihan Danie het sy Protea-kleure verdien ná sy tweede wêreldkampioenskap in Japan in 1993. Benewens verskeie kere waarin hy provinsiale kleure verwerf het, was hy ook vir agt jaar die Vrystaat se hoofskeidsregter en lid van die Vrystaatse karatevereniging vir byna 20 jaar. Hy het Japan op drie geleenthede besoek vir deelname en intensiewe opleiding en het vyf keer internasionale blootstelling geniet. Hy het ’n paar jaar gelede afgeskaal met kompetisie- en skeidregterverpligtinge.

Rig navrae oor die sport aan shihan Danie by 082-817-3060 of shihan Louis by 082-807-7297 .

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.