Die Bloemfonteinse netbalster Karla Pretorius is gisteraand op ’n gala-geselligheid as die Vrystaat se Sportster van die Jaar aangewys.
Dit is die hoogtepunt van die aand waarop Sentraal24 en die Universiteit van die Vrystaat se Sportster van die Jaar-geselligheid wat Vrystaatse sportuitblinkers vereer, aangebied is.
Karla is ook aangewys as Sportvrou van die Jaar. Pretorius was ook in 2019 en 2018 die Sportster van die Jaar.
Karla het vanjaar vir die sewende seisoen vir die Sunshine Coast Lightning Australia gespeel en vroeër vanjaar as onderkaptein vir die Proteas in die eerste Netbal-wêreldbeker wat in Afrika aangebied is, gespeel. Sy het gister op ’n oefenkamp vertrek, voor die toernooi waarin die Proteas volgende week teen Australië speel.
Die Hoërskool Fichardtpark het vandeesweek aangekondig dat Karla aangestel is as hoofafrigter van die skool se netbalspanne nadat sy besluit het om nie weer professioneel in Australië te speel nie. Haar en haar man, Werner, se dogter Kara, is verlede jaar gebore.
Gerald Coetzee is op dié geleentheid as die Sportman van die Jaar aangewys.
Jaco Peyper, wat in Frankryk is vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi, is aangewys as Beampte van die Jaar.
Die Cheetahs is aangewys as die span van die jaar en Ruan Pienaar is vereer met ’n spesiale eerbewys vir sy bydra tot Vrystaat-sport.
KovsieSport se Junior Sportvrou van die Jaar is Johani van Tonder (atletiek), Junior Sportman van die Jaar is Michael Annies (rugby), Sportvrou van die Jaar is Refiloe Nketsa (netbal) en Sportman van die Jaar is Robert Summers (pluimbal).
Vrystaatse uitblinkers in skolesport, het ook elkeen erkenning gekry.
Lees meer oor die glansgeleentheid in Bloemnuus van 19 Oktober.