Karla mik na nuwe doel by Fichies

Karla Pretorius, wat Donderdag as Sentraal24 en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Sportster van die jaar vir 2023 aangewys is, is nog nie verlore vir Suid-Afrikaanse netbal nie.


Karla Pretorius, wat Donderdag as Sentraal24 en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Sportster van die jaar vir 2023 aangewys is, is nog nie verlore vir Suid-Afrikaanse netbal nie.

Dié 33-jarige verdediger en Protea-onderkaptein het bevestig dat sy ten minste nog tot Januarie in die Protea-rok sal speel.

Pretorius sal egter nie volgende jaar na Australië terugkeer vir ’n agtste seisoen in die superliga nie.

Sy het die pos as hoofnetbalafrigter van die Hoërskool Fichardtpark aanvaar. Sy gaan die eerste span van dié skool afrig en ook betrokke wees by die afrigting van die ander netbalspanne.

Karla het Donderdag aan Bloemnuusgesê sy sien baie uit na dié nuwe uitdaging.

“Ek het nog altyd baie daarvan gehou om jong spelers af te rig en het dit in Australië ook gedoen. Ek het baie oor nasionale en internasionale netbal geleer wat ek as afrigter kan toepas”.

Karla het sedert 2016 vir die Sunshine Coast Lightning in Australië professioneel netbal gespeel.

“Die klub het vir my gesê hy kan my nie ’n korttermyn-kontrak aanbied nie. Die klub soek iemand wat haar vir twee of drie jaar kan verbind.

“Ek wou graag nog een jaar oorsee gespeel het, maar het vrede in my hart. Dit voel of ’n las van my skouers afgerol het noudat ek die besluit geneem het.”

Haar en haar man, Werner, se dogter, Kara, is verlede jaar gebore.

Ná die geboorte het Kara saam met Karla na Queensland gereis waar Karla vir nog ’n seisoen vir Lightning gespeel het.

Sy het ook voortgegaan om vir die Proteas te speel.

Sy het in die wêreldbekertoernooi in Kaapstad in haar 104de toets vir Suid-Afrika opgedraf.

Sy is nou saam met die Protea-span wat hulle voorberei vir die toetsreeks teen Australië wat van 25 tot 29 Oktober in Australië plaasvind.

Herman van der Merwe, skoolhoof van Fichardtpark, sê dit is ’n wonderlike voorreg om Karla by die skool te ontvang.

“Die Fichie-gemeenskap is baie opgewonde dat Karla haar by Fichies-netbal aansluit. Min netbalspelers in die wêreld het soveel ondervinding van die nuutste afrigtingsmetodes en kondisionering.

“Die tye dat sy met jongmense gewerk het, het sy ’n ongelooflike invloed op hul menswees gehad.

“Afrigting gaan juis oor baie meer as net afrigting – ook invloed op jongmense se lewe as mentor.”

Die Melbourne Mavericks, ’n nuwe span in die Superliga in Australië, en die Queensland Firebirds in Brisbane was ook in gesprek met Pretorius, maar sy sê sy wou nie met ’n baba van voor af in ’n nuwe stad begin nie.

Pretorius se vertrek beteken geen Suid-Afrikaner sal volgende jaar klubnetbal in Australië speel nie.

Die Proteas pak die Rose in Desember in drie toetse in Engeland en Pretorius sê sy bly verbind tot die Suid-Afrikaanse span tot Januarie, wanneer daar ook internasionale netbal sal wees.

Karla is Donderdag ook as Sportvrou van die Jaar gekroon.

Sy was ook in 2019 en 2018 die Sportster van die Jaar op dié jaarlikse geselligheid waarop Vrystaatse sport-uitblinkers vereer word.

  • Sien ook die fotoblad op bl. 6 en bl. 7.

You need to be Logged In to leave a comment.