Die ligging van ses plattelandse feeste, waar die 20 topkunswerke van die Kameraadskap-kunsprojek uitgestal gaan word, is nou bekend gemaak.
Vir dié kunsprojek deur Ons Karoo en Kontrei word kunstenaars in die Karoo en omliggende platteland genooi om kunswerke met die tema “kameraadskap” in te skryf.
Die topkunswerke, wat deur openbare stemming aangewys gaan word, word as deel van ’n mobiele uitstalling by die feeste ten toon gestel om wyer blootstelling aan kunstenaars uit die gebied te gee.
Deur die projek word mense opnuut bewus gemaak en gemotiveer om kameraadskap deel van hul daaglikse lewe te maak.
Die feeste waarop die kunswerke uitgestal gaan word, is Stoep Tasting (25 tot 27 Mei in Nieu-Bethesda); die Olive Schreiner-Karooskrywersfees (16 tot 20 Junie in Cradock); die Victoria-Wes-wildsfees en -duiwewedvlugbyeenkoms (23 en 24 Junie in Victoria-Wes); die Vrystaat Kunstefees (11 tot 15 Julie in Bloemfontein); die Veldblomme-skou (25 Augustus tot 3 September in Clanwilliam) en die Kalahari Kuierfees (28 tot 30 September in Upington).
Kunstenaars in die Karoo en omliggende gebiede word genooi om ’n Kameraadskap-kunswerk gratis op die webwerf in te skryf. Die kunswerk moet op ’n gestrekte seildoek van ongeveer 600 mm x 750 mm gedoen wees.
Die medium wat gebruik word, is elke kunstenaar se keuse. Die kunswerk moet egter sonder ekstra beskerming soos ’n glasblad vervoer kan word. Kunswerke in driedimensionele vorms sal ook vervoer bemoeilik.
Sodra ’n kunswerk voltooi is, kan dit solank as ’n foto op die webwerf gelaai word. Die sluitingsdatum is 30 April, maar inskrywings word reeds ingewag.
Die drie kategorieë waarin ingeskryf kan word, is: professioneel, amateur en kinders jonger as 13 jaar. Die twee topkunswerke in elke afdeling sal pryse in die vorm van geskenkbewyse ontvang.
Adri Smit, ’n stigter en direkteur van Ons Karoo en Kontrei, sê mense wat die langste in die wêreld leef, hang ’n gesonde leefstyl aan waarin hulle ’n verbintenis met ander het, en wat op die grondslag van kameraadskap geskoei is.
“Elke mens het ’n natuurlike behoefte om êrens te hoort, en hoewel die woord kameraadskap nie elke dag gebruik word nie, is dit iets waaraan elkeen daagliks ’n behoefte het.”
Smit sê die kunsprojek spoor mense opnuut aan om kameraadskap uit te leef en na iemand uit te reik.
Om navrae te rig, stuur ’n e-pos aan Adri Smit van Ons Karoo en Kontrei by adri@onsknk.org.za. Kunstenaars kan hulle op kameraadskap.onsknk.org.za inskryf; en om meer van Ons Karoo en Kontrei se aanlyngids uit te vind, besoek onsknk.org.za.