Kersfees gou geproe

Vrugtekoek, ’n lekkerny sinoniem met die Kerstyd, word tradisioneel lank voor die tyd gebak. Met dié resep is dit egter nie nodig om benoud te wees indien ’n vrugtekoek nog nie gebak is nie.


Vrugtekoek, ’n lekkerny sinoniem met die Kerstyd, word tradisioneel lank voor die tyd gebak.

Met dié resep is dit egter nie nodig om benoud te wees indien ’n vrugtekoek nog nie gebak is nie. Die werkmetode is vinnig en die koek hoef nie te verouder nie.

Bestanddele

* 410 g fyngemaakte pynappel

* 500 g droëvrugtekoekmengsel (voeg neute en kersies by, indien verlang)

* 250 ml suiker

* 125 g margarien

* 5 ml gemengde speserye

* 5 ml koeksoda

* 2 eiers

* 250 ml koekmeelblom

* 250 ml bruismeel

* 1 ml sout

Maak só     

Roer die pynappel, droë vrugte, suiker, margarien, gemengde speserye en koeksoda saam in ’n kastrol oor matige hitte totdat die suiker opgelos is.

Verhit die mengsel tot kookpunt en kook dit drie minute. Laat dit heeltemal afkoel.

Voorverhit die oond tot 190 °C.

Smeer ’n koekpan van 20 cm in deursnee en voer dit met gesmeerde waspapier uit.
Voeg die eiers, koekmeelblom, bruismeel en sout by die vrugtemengsel en meng. Skep die beslag in die koekpan, maak dit gelyk en bak dit 30 minute.

Bedek nou die koekpan met bruin- of koerantpapier, stel die oondtemperatuur op 180 °C en bak die koek ’n verdere 90 minute of tot gaar.

Indien verkies, sprinkel ’n bietjie brandewyn oor die warm koek nadat dit uit die oond gehaal is.

Laat die koek in die pan afkoel en bêre daarna in ’n lugdigte houer. Dit vries ook goed.

Huisgenoot Wenresepte 2, Annette Human

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.