Kersgeskenke wat ‘sommer vir vyf geslagte se kinders sal hou’

As jy hierdie Kersfees die kinders wil bederf, koop vir hulle nie net speelgoed waarmee hulle ure lank pret kan hê nie, maar ondersteun ook sommer plaaslike vervaardigers.


As jy hierdie Kersfees die kinders wil bederf, koop vir hulle nie net speelgoed waarmee hulle ure lank pret kan hê nie, maar ondersteun ook sommer plaaslike vervaardigers.

Drie vroue met verskillende ondernemings in Bloemfontein maak oorspronklike speelgoed wat gemaak is om kinders behoorlik aan die speel te hou – ver weg van allerlei skerms soos televisies, selfone en rekenaars.

Gerda Opperman maak die oulikste houtspeelgoed en ook ’n baba-reeks onder die handelsmerk Op’pit.

Sy bied ook handwerkklasse by die winkel in Noordhoek aan.

“Dit is nie net seuntjie-speelgoed dié nie,” gesels sy by die Urth-leefstyl en tuinsentrum waar van haar speelgoed ook te koop aangebied word. “Meisies gaan net so lekker met dié speelgoed speel.”

Dit is nie net seuntjie-speelgoed dié nie,” gesels sy by die Urth-leefstyl en tuinsentrum waar van haar speelgoed ook te koop aangebied word. “Meisies gaan net so lekker met dié speelgoed speel

Sy verf self al die speelgoed wat vir Op’pit gemaak word.

Ook by Urth is Melissa Lingenfelder en Stephanie Strauss se oulike kinderhoutmeubels, swaaie, trapleertjies en vele meer onder die handelsmerk The Burble Collection.

“Ek kry baie van die idees tuis wanneer my eie kinders speel of goed nader trek om op iets te klim,” vertel Melissa. So het hul idees vir ’n “stepper” waarop kinders kan klim om in die kombuis te kyk of te help, asook ’n stewige babastoel by die etenstafel ontstaan.

“Al ons meubels is mooi en stewig – so dit lyk goed selfs al word dit nie gebruik nie en kan sommer ook as versiering in ’n kinderkamer gebruik word,” sê dié twee.

“Al ons speelgoed word so gemaak dat dit in bokse verpak kan word en gekoerier kan word en ouers dit tuis aanmekaar kan sit,” verduidelik Melissa. “Ons sal dit vir Bloemfonteiners self aanmekaar sit as hulle dit so verkies.”

Hier is nog ’n paar oulike idees vir speelgoed vir kinders – miniatuur tuingereedskap in vrolike kleure wat by Urth beskikbaar is.

Stephanie het nog ’n onderneming genaamd Twist waaronder sy staalklimrame en wipplanke uit staaldromme maak en verkoop.

“Dit is stewige speelgoed wat sommer vir vyf geslagte se kinders sal hou,” sê sy. “Maar soos met enige buite-speelgoed, sal dit later dalk nog ’n lagie verf benodig.”

Sy verkoop ook plaas-speelgoed met miniatuur krale en silo’s wat ’n vrou op Kestell vervaardig.

“Dié oulike speelgoed is onweerstaanbaar vir toekomstige boere,” sê sy.

Risna Opperman van Urth, sê daar is sommer baie idees wat ’n mens hierdie Kersfees vir kinders kan koop.

“Hier is byvoorbeeld die oulikste miniatuur-tuingereedskap waarmee die kinders ure in die tuin kan speel en sommer self hul eie plantjies plant.”

Kry meer inligting op die webblaaie burbleco.co.za en twistplay.co.za.

Stephanie Strauss en Melissa Lingenfelder met van die meubels en hout-toebehore wat hulle onder die Burble Collection maak en verkoop.

Van die oulike miniatuur krale wat Stephanie Strauss verkoop.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.