Jannie du Toit tree Saterdag (03/12) om 11:00 op die #Weesdieverskil-fees by die Oorlogsmuseum van die Boerepublieke op.Foto: Argief


Van ’n optrede deur sanger Jannie du Toit tot boeresport en ’n spesiale Kersspel.

Dit en baie meer wag Saterdag (03/12) op besoekers aan die ATKV se #Weesdieverskil-fees by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein. Dit word ten bate van die Jean Webber-huis vir mense met gestremdhede gehou.

Michelle Horn vertel meer oor die Kersspel, Wie is Jesus?, aangebied deur lede van die ATKV se Gemeenskaps­teatertak, om 10:00 en weer om 16:30.

“In ’n moderne wêreld vol nuwe tegnologie, waar inligting heeltyd bekombaar is en daar baie teorië oor die waarheid is, kom hierdie toneelstuk en vertel die storie van Jesus se geboorte. Dit word vertel uit die oogpunt van ’n slaaf en stalskoonmaker, Obed (vertolk deur Herman Booysen).

“Tussendeur die skaapwagters en wyse manne (Leon Fourie, Frikkie van Dyk, Franzel du Plessis en Elsa Afrika) bring die engele (Christi-Ann Lombard, Welma Muller en Anien Coetzee) die goeie nuus: Die Heiland is gebore.

“Ons kry ’n blik op die omstandighede rondom Jesus se geboorte, maar dan kyk ons ook hoe jong kinders wonder oor die bestaan van Jesus as ’n verlosser, en ons beleef hoe die aarde in die jaar 4022 gaan wees deur die oë van twee nuuslesers (Nic Beukes en CW Laten).”

Die dag se verrigtinge begin om 07:00 met ’n pretstap op die terrein, wat deur New Beginnings aangebied word.

Die Kersmark, kosstalletjies en springkastele, asook ’n rits aktiwiteite wat aangebied word, is van 08:00 tot 18:00 op die terrein.

’n Boeresport-geleentheid waarvoor spanne hulle kan inskryf, begin om 09:00.

Om 11:00 stel die Oorlogs­museum ’n Blomblaar, tuimel deur tyd – die eerste van ’n reeks nuwe kinderboeke – bekend, waardeur meer oor kinders se ervaring tydens die Anglo-Boereoorlog aan die lig kom. Daar is ook om 12:00 die bekendstelling van dié boek in Sotho. Die boekbekendstelling is in die museum se ouditorium.

Om 11:00 tree sanger Jannie du Plessis in die amfiteater op, en kort daarna lewer Bloemfonteinse akteur Ilne Fourie haar eenmanvertoning Next customer please. . .

Om 18:00 kan gaste Kersliedjies by kerslig geniet.

Toegang tot die fees kos R10, en kinders jonger as 12 kry gratis toegang. Rig navrae oor die program aan Ebeth Wilson by 083-560-9178, of stuur ’n e-pos na weesdieverskil@atkv.org.za.

You need to be Logged In to leave a comment.