Die Kerstyd gaan Vrydag (04/11) behoorlik ingelui word met die pragtige stemme van die Drakensbergse Seunskoor en Ruan Josh op die jaarlikse Carols with the Stars.
Hierdie jaarlikse fees van Kersmusiek word deur Pick n Pay Preller Walk en Pick n Pay Reizis Square moontlik gemaak.
Carols with the Stars begin om 18:00 by die Laerskool Willem Postma.
Toegang is gratis, maar gaste moet onthou om nie-bederfbare kos of troeteldierkos saam te bring wat aan liefdadigheidsorganisasies oorhandig gaan word. Die skenkings kan in die winkeltrollies by die ingange na die skool in Albrechtstraat en Poultneystraat in Dan Pienaar gesit word.
Die Siya Thakozastigting vir kwesbare kinders, Sentraal24 en Volksblad se Kersfonds, Radio Rosestad se Gee-projek en die DBV Bloemfontein is vanjaar se welsynsorganisasies wat by hierdie skenking sal baat.
Daar sal heelwat kos- en ander stalletjies wees.
Personeel van die SANBS sal aan diens wees vir mense wat wil bloed skenk. Hulle sal van 15:00 tot 19:00 by die skool wees.
Die Drakensberse Seunskoor begin die aand se verrigtinge en sal gaste met ’n verskeidenheid liedjies, waaronder gewyde Kersliedjies, vermaak.
Ruan Josh sal tydens sy optrede ligte liedjies sing en daarna ook gewyde liedjies met die oog op Kersfees.
Om ’n kans te staan om een van twee Renault Kwid-motors te wen, is daar nog net geleentheid tot vandag (03/11) om by Pick n Pay Preller Walk of Pick n Pay Reizis Square inkopies te doen en in aanmerking te kom.
Gooi die inkopiestrokie met naam en van, ID-nommer en telefoonnommer agterop geskryf in die houers voor elk van die betrokke winkels waar die Renault Kwid staan.
Die finaliste uit al die inskrywings vir die twee voertuie sal Vrydagaand tydens Carols with the Stars getrek word.
Slegs finaliste wat daar is wanneer hul name getrek word, staan die kans om ’n motor te wen.
Bring kampstoele en warm komberse teen die lentekoue en kom geniet ’n aand van pragtige musiek.