Nie net is die Carols with the Stars-konsert Vrydag (19/11) ’n geleentheid om in die Kersfeesstemming te kom nie, dit is ook ’n spesiale geleentheid waar konsertgangers ’n bydrae tot liefdadigheid kan maak.
Carols with the Stars, wat deur Pick n Pay Preller Walk aangebied word en waarvan Bloemnuus (deel van Sentraal24) die mediaborg is, word vanaand van 18:00 af op die Laerskool Willem Postma se sportveld aangebied.
Arco Musica met die sangers Cézanne Yzelle en Arend Brink jr. is die gaskunstenaars vir die aand.
Slegs mense met gratis kaartjies wat by Pick n Pay Preller Walk afgehaal is, of mense met ’n bewys van ’n gratis Quicket-kaartjie op hul selfoon of uitgedruk, sal by die hekke ingelaat word. Sodoende word daar verseker dat slegs 2 000 mense, na aanleiding van Covid-19-regulasies, toegang verkry.
Konsertgangers word versoek om nie-bederfbare kos, asook honde- en katkos, saam te bring. Dit kan by die toegangshekke afgegee word. Kom gee jou deel om dankie te sê. Liefdadigheidsorganisasies wat by dié skenkings sal baat vind, is Vrystaat-Versorging in Aksie in Watkeystraat, Genade in Aksie, asook die dierewelsynsorganisasies die DBV, New Beginnings en Pet Action.
Die program vir die aand se eerste helfte bestaan uit gewilde liedjies, waarna mense genooi sal word om saam met die orkes Kersliedere te sing.
Mense wat die geleentheid bywoon, kan hul eie piekniekmandjie, stoel en kombers saambring.
Hekke open om 17:00 en die vertoning begin om 18:30.
Verversings sal ook te koop aangebied word.
Bring jou pakkie nie-bederfbare kos saam en gee dit af by die toegangshekke.) Skakel 051-404-7600 vir meer inligting.