Kiep groet een van die nuwelinge, Kiepie op die bed waar sy haar tuisgemaak het.


Kiep, die hoenderhen, steur haar min aan hoenderkonvensies.

Sy het besluit ’n bed in die huis klink na ’n baie geriefliker plek om eiers te lê en dit uit te broei as tussen haar maats in die hoenderhok. ’n Hoenderhen wil ook mos graag in gerief haar eiers uitbroei.

Jenny Vorster van ’n hoewe in Groenvlei, sê dié hen het haar gereeld op die rusbank in die huis kom neervly.

Dinge het ’n bietjie hand uitgeruk toe sy en ’n haan vryerig begin raak en Kiep eiers op Jenny se dogter, Carmen, se bed gelê het.

“Ek het die eiers gevat en in ’n veilige hoekie gesit sodat Kiep daar op hulle kon broei. Ek moes dit elke dag doen – sy het omtrent 12 eiers gelê.”

Eendag het Carmen die eiers terug op die bed gesit en toe het Kiep sommer lekker gebroei.

“Kiep het vir Carmen skoon van haar bed af gelê sodat Carmen op die bank begin slaap het. Die hoender loop in totale vrede hier in die huis tussen die katte en die honde rond. Die hond het selfs langs haar op die bed gelê terwyl sy op die eiers gebroei het.”

Jenny sê hoendereiers neem 21 dae om uit te broei, so teen Donderdag (24/03) het hulle geweet dinge kan begin gebeur.

“Vrydag-oggend het ek ’n sagte piep-geluid gehoor. Ek het oral gesoek na dié kuiken, maar kon nêrens binne of buite die huis een kry nie. Eers later het ons uitgevind ’n kuiken kan net voor hy uit die eier broei, al geluide maak.”

So het vier kuikens die naweek hier op die bed uitgebroei.

Die hoender-gesin is intussen vir hul eie veiligheid in ’n hok in die tuin tuis gemaak. 

You need to be Logged In to leave a comment.