Kies slim vir ‘n ge-zoem in die tuin

Blomplante is perfek vir ’n by-vriendelike tuin.


Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand. . . net soos C. Louis Leipoldt in sy bekende gedig gesê het.

Stap in enige tuin en sien hoe oorvloedig jy nou met blommende plante begroet word.

Blomplante is perfek vir ’n by-vriendelike tuin.

Buks Janse van Rensburg, bestuurder by die Greenside-kwekery, sê vanjaar is ’n besonderse jaar vir tuine omdat die winter nie so koud was nie.

“Alles is nou in blom en die rose lyk regtig pragtig.”

Sy voorstelle van watter plante geplant kan word om bye na jou tuin te lok, sluit in laventel, aalwyne, madeliefies, calibrachoa, malvas en salies.

Volgens Life is a Garden hou bye veral baie van plante met blou, geel, violet en blougroen blomme.

“Die malvas lyk hierdie jaar besonder mooi nadat dit verlede somer weens die baie reën gevrot het,” sê Buks.

“Mense wat graag bye na hul tuine wil lok, kan gerus heelwat laventel plant.”

Hy sê daar word goeie somerreën voorspel, en tuiniers kan gerus nou die tuin met plante vul en só die hele somer tuinvreugde ervaar.

Van die plante wat nou oorvloedig blom, is die eenjariges soos die petunias, asook die inkalelies wat sommer vinnig in die tuin vermeerder en ’n pragtige prentjie maak.

Ook die sitrusbome, jasmyn en sterjasmyn blom nou en lok ywerige bye tuin toe terwyl dit die lug met heerlike geure vul.

“Ná die lang droogte plant mense weer graag bome in hul tuin. Een van die gewilde bome wat mense nou weer plant, is jakarandabome.”

Kyk gerus hoe oorvloedig jakarandabome nou in Bloemfontein blom, dan weet jy hoekom dit so ’n gewilde keuse in die tuin is.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.